As jou selfoon die nuutste Android-tegnologie bevat, gaan iPhone-gebruikers nou ’n bietjie groen voel. WhatsApp het ’n radikale nuwe funksie bekendgestel: videogesprekke met jou vriende. Dié funksie is egter nog nie beskikbaar vir iPhone-gebruikers nie.

Basies moet jy as Android-gebruiker seker maak die nuutste sagteware (weergawe 2.16.318) is op jou slimfoon gelaai. Die oomblik dat jy ’n kamera langs jou kontakte sien verskyn, kan jy maar weet: Dis tyd om van aangesig tot aangesig met mekaar te gesels. Dis mos opwindende nuus!

Onthou net, nes met Skype en FaceTime sal jy ’n internet- of WiFi-verbinding nodig hê om daardie video-oproep te kan maak.

As jou slimfoon wel die regte WhatsApp-weergawe het, kan jy bloot die bel-opsie druk. Dan sal jy ’n nuwe gespreksblokkie sien verskyn wat jou die keuse tussen ’n standaard- en video-oproep bied.

Sou die mens vir wie jy bel, nie video-oproepe kan ontvang nie, sal dit as ’n standaard-oproep deurgaan. Jy sal ’n foutboodskap sien wat aandui ’n video-oproep is nie moontlik nie.

WhatsApp het nog nie juis die nuwe funksie geadverteer nie, maar verskeie gebruikers stel dit al op die proef.

Op Google Play is ’n amptelike beta-toetsprogram beskikbaar. Gebruikers wat dit wil benut, sal die nuutste WhatsApp-beta-weergawe moet aflaai. Hulle sal ook gevra word om te registreer deur op die “Become a Tester”-knoppie te druk.

Bronne: endgadget.com, techcrunch.com, androidpolice.com, financialexpress.com, thenextweb.com