Jan Koum (37) het op die maatskappy se blog geskryf een van die hoofredes vir die skep van die app is sy behoefte aan privaatheid. Onder Sowjet-beheer in sy geboorteland, die Oekraïne, het hy nooit privaatheid geniet nie.

“Respek vir privaatheid is in ons DNS gekodeer, en ons het WhatsApp so gebou dat ons so min moontlik oor ons gebruikers weet,” het Jan geskryf. Hy het ook genoem dat die app nie gebruikers se naam, e-posadres, huisadres, werkgewer, geboortedatum of aanlyn soektoggeskiedenis vra nie.

Jan het ook daarop aangedring dat Facebook se oorname verlede maand (wat hulle R209 biljoen uit die sak gejaag het) niks gaan verander nie, ten spyte daarvan dat Facebook bekend is daarvoor dat hulle soveel moontlik inligting van gebruikers wil hê.

“As ons vennootskap met Facebook sou beteken dat ons ons waardes moes verander, sou ons dit nie gedoen het nie,” het Jan geskryf.

“Pleks daarvan konsentreer ons op ’n vennootskap wat ons in staat stel om dit steeds onafhanklik te bedryf. Ons fokus steeds daarop om WhatsApp se belofte na te kom sodat mense wêreldwyd die vryheid het om sonder vrees hul opinies te lug.”

– Sapa