Die maatskappy, wat aan Facebook behoort, het verlede jaar aangekondig hulle gaan op verskeie fone steun vir die app staak, maar hulle het sedertdien die spertyd vir sommige BlackBerry- en Nokia-toestelle verleng, berig MyBroadband. 

Die besluitnemers by WhatsApp het onlangs op hul webtuiste die lys bygewerk van fone wat hierdeur geraak sal word. “Hierdie platforms bied nie die soort vermoëns wat ons benodig om ons app se funksies in die toekoms uit te brei nie,” het hulle verduidelik. 

“As jy een van hierdie toestelle gebruik, beveel ons aan dat jy opgradeer na ’n nuwer bedryfstelsel of na ’n nuwer Android OS 4.0+, iPhone iOS 7+ of Windows Phone 8.1+.”

Hier is die lys van bedryfstelsels wat geraak word.

• Nokia Symbian S60 – ná 30 Junie 2017.
• BlackBerry OS en BlackBerry 10 – ná 31 Desember 2017.
• Windows Phone 8.0 en ouer – ná 31 Desember 2017.
• Nokia S40 – ná 31 Desember 2018.
• Android-weergawes – 2.3.7 en ouer ná 1 Februarie 2020.

Tot die frustrasie van talle gebruikers het die app vroeg in 2016 ophou werk op verskeie BlackBerry-fone, en van die begin van die jaar op die Android-weergawes ouer as 2.3.3, Windows Phone 7 en iPhone 3GS / IOS 6.