DIS skuins voor twee die middag en die mooi klipkapel is stampvol.

Buite skep ’n sagte motreëntjie ’n fantasiewêreld, maar hier binne lyk die bruidegom nou al goed ongemaklik.

Darren Simpson – by radioluisteraars beter bekend as die grapjas en poetsbakker Whackhead – sweet behoorlik. Die troue moes byna ’n halfuur gelede al begin het en van sy bruid, Samantha Teixeira (24), én die predikant is daar nog geen teken hier in die klein kapel in Hillcrest, KwaZulu-Natal, nie.

Uitgevat in sy swart pak en wit das loop hy deur die rye houtbanke wat met rosies versier is en maak geselsies met die

bruilofsgaste, maar hy loer kortkort deur toe.

Later vat hy die mikrofoon, maak keel skoon: “Is iemand hier dalk ’n kommissaris van ede? Ons gaan hom dalk nodig kry!”

Die gaste lag, maar Darren kan nie help om te wonder nie: Wat as Samantha hom die grootste poets van sy lewe gebak het? Gewoonlik is dit hy wat die poetse uitdeel.

Lees die volledige artikel en sien meer foto's in die Huisgenoot van 7 Oktober 2010