In die studie, waarvan die uitslag drie weke ná die Hollywood-akteur Robin Williams se oënskynlike selfdood uitgereik is, waarsku die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ook mediaberigte van besonderhede van selfdood verhoog die risiko vir na-apers.

“Elke selfdood is ’n tragedie. Na raming sterf meer as 800 000 mense so en daar is baie selfdoodpogings vir elke sterfte,” het Margaret Chan, WGO-hoof, gesê in die verslag wat deel is van 10 jaar se navorsing oor die onderwerp.

“Die uitwerking op naasbestaandes, vriende en gemeenskappe is vernietigend en verreikend, selfs lank nadat mense na aan hulle hul eie lewe geneem het,” het sy bygevoeg.

Die WGO, wat na selfdood verwys as ’n groot probleem vir openbare gesondheid wat die hoof gebied moet word, het 172 lande bestudeer om die verslag saam te stel.

Dit het gesê in 2012 het lande met ’n hoë inkomste ’n effe hoër selfdoodkoers gehad – 12,7 vir elke 100 000 mense – vergeleke met 11,2 in lande met ’n lae of gemiddelde inkomste.

Maar gegewe laasgenoemde se groter bevolking, het dit driekwart van die wêreldtotaal uitgemaak.

Suidoos-Asië, wat Noord-Korea, Indië, Indonesië en Nepal insluit, maak meer as ’n derde van die totaal uit.

Selfdood in lande met ’n hoë inkomste maak sowat ’n kwart van die wêreldtotaal uit.

Die metodes wat deesdae wêreldwyd die gewildste is, is vergiftiging met plaagdoder, hang en vuurwapens, maar in hoogs verstedelikte gebiede in Asië spring baie mense ook van geboue af.

Die WGO het gewaarsku syfers oor selfdood is dikwels onbetroubaar; minder as die helfte van die lande bo genoem, hou behoorlik rekord daarvan.

Gevolglik het hulle gesê hulle het ’n reeks data verwerk sodat hulle elk van die lande se selfdoodkoers kan bereken.

Die wêreldkoers is sowat 11,4 per 100 000, en mans is amper twee keer so geneig soos vroue om hul lewe te neem.

Die lande met die hoogste koers is Guiana (44,2 per 100 000 mense), Noord-Korea (38,5) en Suid-Korea (28,9).

Volgende is Sri Lanka (28,8), Litoue (28,2), Suriname (27,8), Mosambiek (27,4), Nepal en Tanzanië (albei 24,9), Burundi (23,1), Indië (21,1) en Suid-Soedan (19,8).

Volgende op die lys is Rusland en Uganda (albei 19,5), Hongarye (19,1), Japan (18,5) en Belarus (18,3).

In lande met ’n hoë inkomste is geestestoestande, soos depressie, teenwoordig by tot 90 persent van mense wat hul lewe neem, vergeleke met sowat 60 persent in lande soos China en Indië, het die WGO gesê.

Hulle het gesê hul doel is om teen 2020 die nasionale selfdoodkoers met ’n tiende te verminder.

Maar volgens hulle is ’n dit groot uitdaging, want slagoffers is dikwels van gemarginaliseerde groepe van die bevolking, baie van hulle is arm en vatbaar vir baie soorte druk.

En lande met ’n lae inkomste, wie se gesondheidstelsels reeds sukkel met aansteeklike siektes, sukkel veral met die opspoor en help van mense wat die risiko loop om hul lewe te neem.

Kenner het die media en gebruikers van sosiale media herhaaldelik gekasty omdat hulle aaklige besonderhede oor selfdood deel, hetsy van bekendes soos Robin of onbekende mense wat op vreemde maniere hul lewe neem.

“Onvanpaste beriggewingspraktyke van die media kan selfdood ophemel en romantiseer en die risiko vir na-apingselfdood verhoog,” het die verslag gesê.

-  Jonathan Fowler/Sapa