In 2013 het Steve Boryszczuk (51) sy vrou, Michelle (43), aan ’n vroeë soort Alzheimersiekte verloor. Daarna het hy dit sy doel gemaak om haar drome te verwesenlik. 

Hy het die afgelope paar jaar die wêreld plat gereis en die punte op Michelle se lysie afgemerk. Hy het lande soos China en Peru besoek en selfs die hoogste vulkaan in Costa Rica gesien.

Op al dié plekke het hy ’n lok van Michelle se hare agtergelaat sodat ’n deel van haar altyd daar sal wees.

Michelle en Steve het mekaar ontmoet toe hy 17 jaar oud was – en dit was liefde met die eerste aanblik. Toe Michelle 16 word, het hulle afgehaak. Hulle het twee seuns gehad. 

Hulle het beplan om deur die wêreld te reis sodra hul twee kinders oud genoeg is. Michelle het selfs ’n gedetailleerde plan van hul avonture opgetrek. Maar toe word Alzheimersiekte op 38 by haar gediagnoseer.

Sy is dood voor hulle enige van hul planne kon uitvoer.

“Dit was absoluut verpletterend vir my; dit is steeds. Ek was radeloos. Ek sal haar vir die res van my lewe mis, want sy was my hele wêreld,” het Steve aan die Grimsby Telegraph gesê.

Volgens Viral Thread wil Steve bewusmaking skep oor die siekte onder jong mense, terwyl hy terselfdertyd sy vrou se lysie voltooi.

Hy het sedert haar dood die 16 brûe in Londen, die Yorkshire Three Peaks, China se Groot Muur en die Isle of Wight se kusweg bewandel, om net ’n paar te noem.

In Oktober pak Steve en sy pel Tony Butler hul grootste uitdaging tot nog toe – die Himalaja. 

“Ek hoop sy sal trots wees op alles wat ek ter nagedagtenis aan haar doen. Ek gaan die beste maak van elke wonderlike sekonde op daardie staptog, want ek weet sy sou dit doen.”

Die staptog sal meer as 10 dae duur, waartydens hulle hoogtes van 3 962 m sal bereik.

Bronne: THE MIRROR, GRIMSBY TELEGRAPH, VIRAL THREAD