Babette Jaquish het van alle soorte blomme gehou, maar sonneblomme was haar gunsteling.

Toe sy verlede jaar die stryd teen kanker verloor, het haar man, Don, 8 km ver sonneblomme geplant as eerbetoon aan sy vrou, wat nege jaar lank teen die siekte gestry het. “Sy was binne en buite ewe pragtig,” het Don, van Wisconsin, aan ABC News gesê.

Nadat murgkanker in 2006 by Babette gediagnoseer is, het hulle ’n paar honderd hektaar sonneblomme rondom hul eiendom geplant. Jare later, toe die siekte in remissie was, het die egpaar Babette’s Seeds of Hope van stapel gestuur nadat Babette die plan gekry het om sonneblomme te plant en die sade ten bate van kankerpasiënte en –navorsing te verkoop.

Ná haar dood het Don belowe om nog sonneblomme aan te plant om ander kankerlyers hoop te gee.

“Ek kon dit eers verstaan toe ek sien hoe pragtig die blomme is,” het hul dogter, Jenny White, gesê. “Ons wou hê dit moes ’n uitdrukking van liefde wees. Dit is ’n enorme, pragtige gesig. En dit is presies hoe my ma was. Dit is iets waaraan sy haar lewe gewy het.”

Don vertel deur die blomme voel hy steeds sy vrou se liefde. Ongeveer vier maande ná haar dood het hy ’n brief ontdek wat sy vir hom geskryf het. Daarin staan: “Jy moet voortgaan met jou lewe en elke dag leef. Voel my in die oggendluggie, en wanneer jy opstaan om jou koffie te maak Ek sal altyd daar wees.”

Bronne: metro.co.uk, abcnews.go.com