Britse wetenskaplikes het Maandag bekendgemaak hulle is ’n groot stap nader aan die ontwikkeling van ’n toets wat Alzheimer-siekte kan voorspel en moontlik kan help met die soeke na ’n kuur.

Die navorsers het bloedproteïene geïdentifiseer wat in pasiënte voorkom by wie Alzheimer-siekte later gediagnoseer is. Die siekte wat jou brein laat wegkwyn, is die algemeenste vorm van demensie.

’n Toets wat die siekte vroeg diagnoseer, sal navorsers in staat stel om pasiënte te identifiseer wat aan proefnemings kan deelneem om nuwe behandelings teen die toestand te ontwikkel.

Altesaam 220 pasiënte met matige kognitiewe verswakking is gemonitor vir die navorsing wat in die joernaal Alzheimer's & Dementia gepubliseer is.

“Baie van ons medisyneproefnemings misluk, want teen die tyd dat pasiënte die middels kry, is die brein reeds te kwaai aangetas,” sê Simon Lovestone, ’n dosent in neurowetenskap aan die Oxford-universiteit, wat die ondersoek by King’s College in Londen gelei het.

“’n Eenvoudige bloedtoets kan ons pasiënte in ’n veel vroeër stadium help identifiseer om aan nuwe proefnemings deel te neem, en hopelik behandeling te ontwikkel wat die vordering van die siekte kan keer.

“Die volgende stap sal wees om ons bevindinge in verdere monsterstelle te bekragtig.”

Die navorsers het 10 proteïene geïdentifiseer in die bloed van 87 persent van diegene in die groep by wie Alzheimer-siekte binne ’n jaar gediagnoseer is.

Alzheimer-siekte word veroorsaak deur giftige proteïene wat breinselle vernietig en is die algemeenste vorm van demensie.

Wêreldwyd ly 35,6 miljoen mense aan die dodelike degeneratiewe siekte. Dit is tans ongeneesbaar en daar is elke jaar 7,7 miljoen nuwe gevalle, volgens ’n verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) van 2012.

In 2010 is die totale globale maatskaplike koste van demensie op R6,6 triljoen $604 biljoen geraam, volgens Alzheimer's Disease International, ’n federasie van Alzheimer-verenigings wêreldwyd.

Dit sal nie die eerste diagnostiese toets vir Alzheimer-siekte wees nie. Maar dit is vooruitgang, want dit is blykbaar akkurater vir die bespeuring van ’n spesifieke vorm van die siekte wat kognitiewe vaardighede belemmer. Met dié dat die ondersoek ’n beperkte aantal vrywilligers het, sal dit waarskynlik nie ’n algehele diagnostiese hulpmiddel oplewer vir Alzheimer-siekte met sy ingewikkelde oorsake en werkings nie. James Pickett, die hoof van navorsing by die Alzheimer-vereniging, waarsku omdat akkuraatheid onder 90 persent was, dit verbeter sal moet word voor so ’n toets nuttig sal wees.

'Slegs deur verdere navorsing sal ons antwoorde kry.'

“Slegs deur verdere navorsing sal ons antwoorde kry vir die grootste vrae rakende demensie, dus sal ons die vordering van die ondersoek met belangstelling dophou,” sê James.

Maar buiten dat dit die farmaseutiese soeke bevorder na middels wat Alzheimer-siekte stuit of omkeer, moet enige toets mense ook leefstylkeuses help maak, soos hoe om in die toekoms vir ’n bejaarde familielid te sorg wanneer die siekte hulle kwaai kan laat agteruitgaan.

Adrian Pini, ’n neurobioloog by King's College in Londen, sê: “Die uitslae wat vandag bekendgemaak word, is interessant. Maar, soos die skrywers uitwys, daar is nog baie werk om te doen voor ’n bruikbare bloedtoets vir Alzheimer-siekte beskikbaar word.”

Peter Passmore, ’n dosent in veroudering en geriatriese medisyne by die sentrum vir openbare gesondheid by die Queen’s University in Belfast, sê dis ’n “interessante ontwikkeling.

“Die ondersoek bied ook seine oor moontlike onderliggende meganismes in demensie wat belangrik is, want dit help bevorder ons kennis en rig verdere navorsing.”

- Naomi O’Leary/Sapa