Hulle skryf dit toe aan ’n gebrek aan navorsing oor dié mitiese gediertes.

Klein Sophie het aan ’n “Liewe Wetenskaplike” van die Statebond se Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsorganisasie (CSIRO) geskryf en beleef gevra hulle moet vir haar ’n gevleuelde troeteldier skep.

“Ek sal dit Toothless noem as dit ’n meisie is en Stuart as dit ’n seun is,” het sy in haar brief geskryf, en beloof om die gedierte rou vis te voer en daarmee te speel wanneer sy nie by die skool is nie.

Toothless is die naam van ’n draak wat met ’n Viking-tiener bevriend raak in die How to Train Your Dragon-reeks kinderboeke. Die twee is ook die hoofkarakters in ’n gewilde rolprentreeks.

Sophie se versoek het die 87 jaar oue instelling genoop om ’n ongewone verskoning uit te reik waarin hulle erken “ons het ons misgis”.

“Daar is nie drake nie,” het hulle in ’n blog-antwoord gesê wat dié week op hul webtuiste geplaas is.

“Oor die afgelope sowat 87 jaar kon ons nog nie daarin slaag om ’n draak of draakeiers te skep nie,” het hulle gesê, en bygevoeg hul wetenskaplikes het al naaldekokers bestudeer en selfs die liggaamstemperatuur van ’n sandakkedis gemeet.

“Maar ons het nog nooit drake van die mitiese, vuurspuwende soort nagevors nie. En daaroor, Australië, is ons jammer.”

Die CSIRO sê wetenskaplikes oorsee het onlangs oorweeg of draakvuur met vuursteen, gas of vuurpylbrandstof vervaardig sou word, en bespiegel of hul navorsing na alternatiewe brandstowwe ’n wegspringplek vir hul navorsings-en-ontwikkelingsprogram oor drake kan wees.

“Sal draakbrandstof ’n lae-emissie-opsie wees? Dankie vir die stof tot nadenke, Sophie. Ons ondersoek dit,” het hulle gesê

Die navraag het Vrydag ’n sprokieseinde gehad toe die CSIRO bekend maak ’n draak is danksy Sophie se brief “herbore”.

“Ons kon nie sit en niks doen nie. Ons het Sophie immers belowe ons ondersoek dit,” het hulle in ’n nuwe blog verduidelik.

“Toothless, in 3D uit titaan gedruk, het in laboratorium 22, ons bymiddelvervaardigingsfasiliteit in Melbourne, die lewenslig aanskou.”

Die helderblou-en-grys draak is klein genoeg om in jou hand vas te hou en nou van Melbourne na Sophie se huis in Brisbane onderweg, sê die CSIRO.

“Aangesien elektronstrale gebruik is om haar in 3D te druk, is ons beslis bly sy het hulle nie uitgeblaas toe sy uit kom nie . . . pleks van vuur,” het die CSIRO se Chad Henry gesê.

“Titaan is supersterk en lig en daarom sal Toothless baie goed kan vlieg.”

Sapa