[caption id="attachment_162564" align="alignnone" width="600"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

Elke oggend gaan stap Alwyn Carstens en sy hond, Heidi, op Langebaan se strand. Maar op Maandag 20 Februarie het hulle ’n heerlike verrassing langs die see gekry: ’n boodskap in ’n bottel.

Alwyn het vertel dat hy aanvanklik nie veel aandag gegee het aan die bottel waarby Heidi so rondsnuffel nie, want bottels en ander rommel lê dikwels ná ’n naweek op die sand.

Maar toe vang ’n geel strikkie om die bottel Alwyn se oog. Hy het aan die gemeenskapskoerant Weslander vertel hy was verbaas; dit het gevoel soos iets uit ’n fliek.

In die bottel was ’n briefie, geskryf deur Jannine Atkinson, ter nagedagtenis aan haar oupa Thomas “Tommy” Atkinson, wat in Mei verlede jaar in Liverpool, Engeland, oorlede is nadat hy lank siek was. Jannine het haar telefoonnommer by die briefie ingesluit.

Toe Huisgenoot haar bel, het sy vertel: “Op die dag waarop my oupa 87 jaar oud sou geword het, het ons sy as in die Merseyrivier (in die noordweste van Engeland) gestrooi. My oupa het op ’n keer in Singapoer getoer en het altyd vir my die mooiste staaltjies van sy ervarings daar vertel.

“Hy wou altyd teruggegaan het Singapoer toe, maar omdat hy so siek was, kon sy droom bewaarheid word nie.”

Jannine het besluit om ’n brief te skryf en dit saam met ’n foto van haar oupa in ’n bottel te plaas. Sy het die bottel in die Mersey laat afdryf in die hoop dat dit Singapoer sou bereik.

’n Vriendin uit Engeland, Dee Dolby, het toevallig einde Februarie by Alwyn en sy vrou, Mariette, gekuier. Hulle het Jannine per teksboodskap van Alwyn se vonds op die strand laat weet.

Sy was verskriklik opgewonde dat die bottel so ver gereis het.

bottel

Die Carstens-egpaar het besluit om hul eie boodskap op Jannine se brief te skryf waarin hulle sê waar en wanneer die bottel gevind is. Hulle het ook ’n skulpie vanaf Langebaan se strand in die bottel gesit.

Dee sou kort daarna na Kaapstad vertrek en was van plan om die bottel aan ’n seilplankryer in Bloubergstrand te gee wat dit so ver moontlik van die kus af in die see sou gooi.

Hulle hoop Jannine se bottel en briefie aan haar oupa sal wel eendag sy bestemming in Asië bereik.

Bron: Weslander