“Ná ’n uitgebreide konsultasie met al die betrokke rolspelers en ’n aanbeveling van die provinsie se ramp- en krisisbestuurseenheid en die SA Weerdiens het ek die ongekende besluit geneem om in die belang van leerders en opvoeders se veiligheid skole in die Wes-Kaap op 7 Junie te sluit,” sê Brian Schreuder, hoof van die onderwysdepartement, in ’n verklaring.


Hy het bygevoeg die departement is ingelig dat die Wes-Kaap sterk winde en kwaai reënval sal beleef vir ’n groot deel van Woensdag tydens ’n storm wat al Dinsdag sy opwagting behoort te maak.

Die SA weerdiens voorspel dat winde van tot 90 km per uur kan woed en reënval van meer as 50 mm verwag word. Die see sal glo ook onstuimig wees.


“Ons besef hierdie reëling gaan Woensdag se skoolprogram versteur, maar sal saam met skole werk om te sorg dat hul programme na normaal terugkeer en vra dat hulle begrip toon en met ons saamwerk.


“Die storm kan skole beskadig, wat leerders en opvoeders en mense wat skool toe moet reis, in gevaar kan stel, veral die mense in landelike gebiede.”


Schreuder het bygevoeg dat openbare vervoer vir leerders skool toe en terug ook nie Woensdagoggend beskikbaar sal wees nie.


Skole sal Donderdag weer oop wees.