’n Vrou van die Weskus is op 29 Januarie dood nadat sy na bewering gif uit ’n waterbottel in die yskas gedrink het.

Lilani Visser (30) van die plaas Swartfontein naby Leipoldtville het die kleurlose aartappelgif (metamidofos) gedrink nadat sy dit vir Bonaqua gebottelde water aangesien het.

Metamidofos is ’n uiters giftige insekdoder wat al met plaaswerkers se gesondheidsprobleme verbind is. As gevolg van die giftigheidsvlak word dit regoor die wêreld streng gereguleer, en in sommige lande word dit tans uitgefasseer vir landbougebruik.

Die paartjie het twee kleuters en Lilani se man het in berigte gesê hulle was nog altyd versigtig om nie skadelike middels in die huis te hê nie, uit vrees dat een van die kinders dit dalk in die hande sou kry.

Die tragedie het weer lig gewerp op hoe belangrik dit is om jou huis teen gif te beskerm. Hier is ’n paar handige wenke om jou kinders veilig te hou.

Nuttige wenke om vergifting te voorkom:

• Hou giftige produkte (insluitend skoonmaakmiddels) in hul oorspronklike houers of bottels.

• Merk alle giftige stowwe duidelik.

• Raak ontslae van skoonmaakprodukte of enige potensiële skadelike stowwe wat jy nie meer benodig nie.

• Hou giftige produkte buite kinders se sig en bereik.

• Installeer veiligheidslotte op kassies wat potensieel gevaarlike middels bevat.

• Hou huishoudelike produkte, soos skoonmaakprodukte, weg van kos.

Bronne: netwerk24.com, safekids.org, poison.org, toxipedia.org