Luidens berigte het die polisie gereageer op ’n klagte wat hulle van ’n gesondheidsgerief in Kensington, Kaapstad, ontvang het.

Gesondheidswerkers het die polisie met hul aankoms ingelig ’n peuter van 18 maande het gesterf nadat hy vir mediese behandeling daarheen gebring is.

Die kind het verskeie beserings aan sy kop en liggaam gehad en het as gevolg daarvan gesterf.

Sy stiefpa is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig .

“Die kind se 26-jarige stiefpa is in hegtenis geneem en sy 30-jarige ma is ondervra. Die verdagte sal in die Kaapstadse landdroshof verskyn sodra hy aangekla is.”

Die peuter se dood volg op verskeie moorde op kinders in Kaapstad die afgelope jaar, onder andere dié van Courtney Pieters.

Courtney se lyk is in ’n vlak graf langs ’n verlate treinspoor in die nywerheidsgebied Epping, sowat 2 km van haar huis af, gevind. Mortimer Saunders(40), wat by Courtney se ouerhuis geloseer het, is vir die moord op en verkragting van Courtney aangekeer.