’n Werklose vrou van die Oos-Kaap het ’n Citroën C1 gewen nadat sy amper 19 000 teksboodskappe gestuur het om in te skryf vir ’n wedstryd.

Nomandiyephi Botha (33) het gestem vir Saba Mbixane, ’n platejoggie by Umhlobo Wenene FM vir die Suid-Afrikaanse Tradisionele Musiekpryse (Satmas). Die ma van twee van Lady Frere het 600 keer per dag gestem. “Ek het 300 SMS’e bedags en 300 saans gestuur,” het sy aan 2oceansvibe vertel. Elke SMS kos R1,50. Sy het dus meer as R28 000 bestee.

Nomandiyephi was gelukkig genoeg om R11 000 van haar stokvel te kry en familie en vriende het ook help lugtyd koop.

“Ek is mal oor Saba en sy program en het aanhou stem vir hom. Ek was baie geskok toe ek hoor ek het die motor gewen. Ek probeer nog herstel van die skok. Ek sou seker doodgegaan het as ek nie gewen het nadat ek my hart en siel in die kompetisie gesit het,” het sy aan die Daily Dispatch gesê.

Umhlobo Wenene FM het die motorwedstryd gehou om stemme vir Saba te kry wat in twee kategorieë vir vanjaar se Satmas benoem is, as beste tradisionele platejoggie en beste tradisionele musiekprogram, wat hy danksy Nomandiyephi gewen het.

-         Koketso Mashika

Twitter:@koketsoMashika

Bronne: http://www.2oceansvibe.com & http://www.dispatch.co.za