Volgens plaaslike owerhede was die werklose bouer verleë oor die feit dat sy vrou, ’n bankier, meer geld as hy maak. Hy het toe sy vriend Carlos Amilcar Martinez (42) se hulp ingeroep om die ontvoering te reël. Daar is foto’s van hom geneem waar hy vasgebind en met sy mond toegestop is. Vir meer dramatiese effek is selfs nagemaakte bloed in die foto’s gebruik. “Ek kon nie glo wat gebeur het toe ek die boodskap en foto’s sien nie,” het sy vrou gesê. Sy het die polisie se hulp ingeroep. Dit het egter nie lank geduur voordat die polisie snuf in die neus begin kry het nie. Die losprys-boodskap se liggingsfunksie het gewys het die man word naby sy huis aangehou.

'Ek kon nie glo wat gebeur het toe ek die boodskap en foto’s sien nie.'

“Ons het Eliot en Carlos in ’n huis sowat 300 meter weg gevind,” sê ’n polisiewoordvoerder. “Beide het skuld erken en is summier in hegtenis geneem.”

Die mans kan elk vyf jaar tronkstraf opgelê word.

Eliot is nie die eerste persoon wat sy eie ontvoering vervals het nie. In 2013 het Aftab Aslam, ’n universiteitstudent wat besig was om Engels te druip, sy eie ontvoering vervals sodat hy nie vir sy ouers hoef te sê hy’t ’n F-simbool in die vak gekry nie.

In dieselfde jaar het ’n 11-jarige Spaanse seun sy ontvoering vervals omdat sy ma en pa ’n afspraak gehad het om later daardie dag sy onderwyser te gaan spreek. Die seun het vir sy pa (wat toevallig ’n polisieman is) ’n teksboodskap gestuur waarin hy sê hy’s ontvoer en iewers in ’n motor se kattebak gelos. Toe sy pa hom bel, het hy gemaak of daar telefoonprobleme is en afgelui. ’n Paar padblokkades en nuusberigte later is die seun veilig in die gesin se tweede huis gevind.

’n Twaalfjarige seun in ’n Franse dorpie het verlede jaar sy eie ontvoering vervals omdat hy te bang was om tandarts toe te gaan. Praat van ’n uiterste geval van tandartsvrees!

Bronne: dailymail.co.uk, time.com, news.yahoo.com