Kim Kardashian en Kanye West het hul herehuis in Bel-Air in 2013 gekoop, maar nou is Kim onseker of hulle voltyds daar moet woon. “Kim voel nie veilig by die nuwe plek nie, omdat dit te groot is,” het iemand in die binnekring aan die tydskrif Star vertel. Die huis is 20 000 vierkante voet.

“Dit is uitgestrek en hulle gaan ’n fortuin net aan sekuriteit spandeer. Kanye het reeds begin intrek, en Kim weet nou nie watter kant toe nie, want sy is die een wat die plek wou hê.” Kim (36) se voorbehoude spruit glo uit haar vreesaanjaende ondervinding in Oktober toe sy tydens die Paryse modeweek in haar hotel beroof is. Die rowers het haar vasgemaak en haar mond toegeplak voor hulle met juweliersware van miljoene dollars gevlug het.

Maar volgens bronne is Kim en Kanye se nuwe huis niks in vergelyking met wat hul aan/af vriende, Beyoncé en Jay-Z, wil koop nie.

Dié musiekpaartjie, wat binne die volgende paar maande ’n tweeling ryker gaan wees, het glo hul oog op die erfgenaam Petra Stunt se eiendom van 57 000 vierkante voet wat vir R1,9 biljoen ($150m) in die mark is.

“Beyoncé en Jay-Z is op soek na ’n huis waarin hulle vir die volgende dekade of so kan woon, en Petra se plek lyk vir hulle baie aanloklik,” vertel ’n bron.

“Hulle weet met hul gesin wat groter word, is dit tyd om wortel te skiet en heelbo aan hul lysie is ’n spoghuis in Hollywood.”

© Cover Media