Dit volg nadat kenners ná Meimaand vanjaar se reuse Wannacry-aanval, wat tienduisende rekenaars in sowat 150 lande getref het, gewaarsku het oor die waarskynlikheid van ál meer sulke aanvalle met boonop meer gesofistikeerde losprysware.

Teen Woensdagoggend was dit nog onbekend wie agter die jongste aanval sit, maar dit lyk of dit begin het as 'n aanslag op regerings- en maatskappyrekenaarstelsels in die Oekraïne.

Blykaar was dit deels bedoel om 'n chaos te veroorsaak net voor 'n nasionale vakansiedag om die aanvaarding te gedenk van die Oekraïne se demokratiese grondwet ná hul afskeiding van die Sowjet-Unie in 1996.

Dus is bespiegel Russiese kuberkrakers is aanspreeklik, hoewel enkele instellings in Rusland ook deurgeloop het.

Werkers by die ou Tjernobil-kernkragaanleg moes bestralingsvlakke met handapparate monitor.

In die Oekraïnse hoofstad, Kiëf, het outobanke byvoorbeeld ophou werk. Die land se sentrale bank, posdiens en grootste telekommunikasiemaatskappy is ook ontwrig.

Werkers by die ou Tjernobil-kernkragaanleg (in 1986 die toneel van die grootste kernongeluk tot op hede) moes bestralingsvlakke met handapparate monitor omdat die kuberaanval hul rekenaars onbruikbaar gemaak het.

'Pietertjie' maak amok

Maar inligtingstegnologiebestuurders elders het ook bontgestaan om die verspreiding hok te slaan van die losprysware, blykbaar 'n nuwe weergawe van die Petja-virus ('klein Pieter' of 'Pietertjie' in Russies), wat verlede jaar kop uitgesteek het.

Van die Russiese oliemaatskappy Rosneft, die Deense verskepingsreus Maersk en die Amerikaanse farmaseutiese reus Merck tot hospitale in die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië en Australiese sjokoladefabrieke is geraak.

Multinasionale prokureurfirmas Doer Onder en in Amerika, 'n Franse konstruksiemaatskappy en die Duitse spoorwegmaatskappy Deutsche Bahn het byvoorbeeld ook deurgeloop.

Dié jongste kuberaanval is waarskynlik die mees gesofistikeerde in 'n reeks aanslae die afgelope maande waarin kuberkraker-instrumente van die Amerikaanse veiligheidsdiens ingespan word.

Eternal Blue is in die WannaCry-losprysware-aanval misbruik en blykbaar nou weer in die jongste aanval.

Die veiligheidsdiens het vasgestel hoe om kwesbaarhede in ouer Microsoft-bedryfstelsels uit te buit (vir intelligensie- en spioenasiedoeleindes). Maar hul tegniek, met die kodenaam Eternal Blue, is deur die omstrede kubergroep Shadow Brokers vasgelê, waarna 'n kuberwapen basies daaruit ontwikkel is.

Eternal Blue is in die WannaCry-losprysware-aanval misbruik en blykbaar nou weer in die jongste aanval.

Kuberkrakers het die WannaCry-virus gebruik om veral rekenaars met ouer weergawes van Microsoft se Windows-sagteware (waarvoor die rekenaarreus al sy steundienste gestaak het) ontoeganklik te maak. Die benaming rasomware spruit uit die losprys wat die webboewe dan eis.

Die nuwe weergawe van die Petja-virus is blykbaar meer gesofistikeerd as WannaCry.

Soos met WannaCry het die afpersers in die jongste aanval nou by $300 in Bitcoin (’n soort kubergeldeenheid) begin: Hoe langer jy versuim om te betaal, hoe hoër raak die prys, en as jy bloot weier, kan die boosware jou belangrikste rekenaarlêers of jou hele hardeskyf uitwis.

Die nuwe weergawe van die Petja-virus is blykbaar meer gesofistikeerd as WannaCry omdat ander metodes ook gebruik word om dit te versprei - buiten om die swak plek in ouer Microsoft-bedryfstelsels soos Windows XP te teiken.

Anders as WannaCry, wat as ietwat amateuragtig bestempel is, het dit sover bekend ook nie 'n sogenaamde kill switch nie. 'n Rekenaarboffin het die WannaCry-aanslag deels help stuit toe hy dié tegniek om die virusverspreiding te stop in die boosware se kodering uitgesnuffel het.

Microsoft het al in Maart met 'n programregstelling (patch) aandag gegee aan die kwesbaarheid in ouer Windows-programme, maar baie rekenaarsgebruikers wêreldwyd, insluitend groot instellings, het nie hul programmatuur bygewerk nie.

Pieter Erasmus, 'n inligtingstegnologiestrateeg verbonde aan Moyo Business Advisory, reken die nuwe aanval kan na sommige rekenaars in Suid-Afrika uitkring.

Hoe kan jy jou rekenaar beskerm?

Waaksaamheid is die belangrikste, benadruk Pieter.

"Gebruikers moet allereers seker maak hul persoonlike rekenaars wat Windows gebruik word voortdurend met Microsoft se jonste veiligheidsopgraderings (dus programregstellings of patches) bygewerk."

Veral ouer Windows-bedryfstelsels, soos Windows XP en Windows Server 2003, was onlangs in die ransomware-visier. Maak uiteraard ook seker jy het 'n gerekende teenbooswareprogram op jou rekenaar en dat dit bygewerk word.

"Moet voorts nooit e-posse van onbekende bronne oopmaak of op skakels in sulke e-posse klik nie," sê Pieter. 

Losprysware kan so op jou rekenaar of slimtoestel beland. Kuberskelms probeer dikwels jou rekenaar met dié boosware besmet deur vir jou bedrieglike e-posse te stuur wat lyk of dit kom van byvoorbeeld 'n bank, staatsinstelling of aanlyn winkel.

"Dis ook wys om twyfelagtige webtuistes te vermy, soos dié wat roofkopieë van flieks en musiek beskikbaar stel."

Sorg dat jy kopieë van alle belangrike data bewaar, byvoorbeeld op 'n ekstra hardeskyf of geheuestokkies, maar dalk ook aanlyn (by een van die bekende cloud-dienste).