Flieks soos Disney se The Little Mermaid het talle jong meisies al sedert hul kinderdae bekoor. En wie kan vergeet van Darryl Hannah se vertolking in Splash van 1984? As meerminne jou nog altyd betower het, sal jy bly wees om te hoor daar is deesdae wêreldwyd meerminskole. Aan dié skole kan jy onder meer leer hoe om soos ’n regte seebewoner te swem en ook opgelei word om ’n meermin-persoonlikheid aan te neem.

Dié skole bied informele opleidingsessies vir belangstellendes, sowel as meer gespesialiseerde opleiding vir beroepsmeerminne, soos dié wat op kinderpartytjies optree, deel is van toneelopvoerings en wat by akwariums werk.
Om meerminwees baas te raak is glo ook nie kinderspeletjies nie. Claire de Louraille, ’n joernalis van die Amerikaanse webtuiste BuzzFeed, het ’n meerminskool in Los Angeles beproef en geskryf: “Meerminwees is moeilik!”
Sy moes onder meer leer om met ’n stert te swem, hoe om dit self aan te trek, hoe om elegant soos ’n meermin op ’n rots of langs ’n swembad te poseer en hoe om self ’n meerminbostuk uit skulpe te maak.
Aan een van Singapoer se voorste meerminskole leer beginner-meerminne ook meer oor die kultuur en geskiedenis van meerminne en kan jy selfs statusse soos brons, silwer en goud in meerminskap behaal. Lande soos Frankryk, Engeland, die Fillipyne en Kanada het almal deesdae skole en daar is selfs meermin-fiksheidsklasse waar jy kan fiks word met behulp van ’n meerminvin. Die skole rus jou toe met ’n spesiale meerminstert, wat lyk nes die ware jakob. Sommige glip jy net oor jou voete en ander is deel van ’n langer kostuum wat tot by jou middel kom. Die meerminvinne is wêreldwyd hoog in die mode, ook in Suider-Afrika.
“Ons kry veral in die somer baie versoeke, maar selfs in die winter koop mense dit vir hul kinders,” vertel Jane Brits van Magical Mermaids, ’n plaaslike maatskappy wat meerminsterte vervaardig en versprei. “Ons beveel nie aan dat kinders jonger as vyf of ses met die sterte swem nie omdat dit nogal vernuf verg om daarmee te swem.” Sy sê Suid-Afrika het ongelukkig nog nie ’n meerminskool nie, maar dat die belangstelling reeds groot genoeg vir so iets is.

Bronne: BuzzFeed, The Telegraph, MTv, New York Times