Die ergste is verby vir die wêreldekonomie.

So sê die ekonoom Dawie Roodt na aanleiding van die skoknuus wat die wêreld ontvang het toe Donald Trump die Amerikaanse verkiesing wen.

Gister was die wêreldmarkte in ’n afwaartse spiraal oor dié nuus en die dollar het gister tot 101,94 teenoor die Japannese jen verswak en tot $1,242 teenoor die euro.

“In die politieke wêreld kan jy maar sê dié klas mense is bloedskandelik. Daar kom nie juis nuwe mens in die partye nie. Donald Trump was ’n totale buitestander en die markte reageer nie goed op verandering nie,” sê Dawie.

“Met onsekerheid sal finansiële markte altyd verswak.”

Volgens Dawie het die markte wel gestabiliseer.

“Die valutamarkte het wel besef dat Amerika steeds een van die grootste geldeenhede is. Die markte het besef dat Donald wel ’n verskil kan maak.”

Hy sê Donald het nie veel insae in die Amerikaanse ekonomie nie omdat daar ’n kabinet is wat ook besluite moet goedkeur.

“Hy gaan wel baie invloed hê buite Amerika. Hy gaan verhoudings kan bou, afbreek en oorloë kan voer. Dit sal wel ’n invloed hê op die markte.”

Hy sê daar is nie meer kommer oor die markte nie.

“Ná die skerp verandering het die markte weer gestabiliseer, en dit sal so bly al word hy in Januarie ingehuldig,” sê Dawie.