Dit is gelykstaande aan die hoeveelheid mense wat in New York bly. Die helfte van hierdie groep sal tussen die ouderdom van 30 en 69 jaar wees.

Maar hoe het kanker ons eie lesers en hul geliefdes geraak? Ons deel graag van hul ervarings. Daar is hartseer, wanhoop en wel ook hoop, wat ’n fyn lyn deur elkeen se ervaring en pyn trek.

Adele Bredenkamp se swaer het onlangs gehoor hy het bloedkanker. Haar grootste wens is dat mense by die Sonneblomfonds moet registreer om stamselskenkers te word.

“Hoe meer mense op die register is, hoe meer mense se lewe word gered,” skryf sy.

Adel Steenberg Ferreira het vyf jaar gelede velkanker op haar neus gekry. Sy beskryf die aangetaste deel as ’n seerplek wat net nie wou ophou bloei nie. “Mense het my aangestaar en hul kop geskud. Ander het my gevra of ek gaan oorleef. Dit was baie seer (letterlik en figuurlik) en ek het net weer besef hoe bevooroordeeld mense kan wees.”

Lees ook: #AlanRickman, Harry Potter-reeks se professor Severus Snape, groet vir altyd

Sy dank die Here dat sy die kanker weg is, maar aanvaar niks as vanselfsprekend nie, “want ’n mens se lewe kan in ’n paar sekondes heeltemal verander.”

Lorraine Lombard se lewe is in alle waarskynlikheid gered omdat sy elke jaar vir ’n mediese ondersoek gaan. “My (bors-)kanker was nie pynlik nie; ek het nie eens geweet ek het dit nie.” Haar kanker is al 14 jaar in remissie.

Christien Loots sê: “Tien jaar skoon. Prys ons Hemelse Vader.”

Petro Nagel se ma en suster het onderskeidelik in 2011 en 2015 “ná moedige gevegte die stryd verloor. Dit het ons hele familie uitmekaargeskeur; dit het met net te veel hartseer gepaardgegaan.”

Ek glo nie ’n ma kan ooit ’n kind se dood verwerk nie, sê Rachel Swanepoel, wat haar ma en haar dogter (30) aan baarmoederkanker afgestaan het.

Lees ook: Randall Wicomb sterf ná kankerstryd

Niekie Bushby se 19-jarige broer het 1999 weens bloedkanker gesterf. “Dit was so vinnig. Skaars ’n week ná sy diagnose het hulle hom begin chemo gee. Sy liggaam was te swak daarvoor, en die dag daarna is hy oorlede.”

Joan Burger Willilams was 14 jaar oud toe chroniese miëlogeenleukemie by haar gediagnoseer is. “Toe ek 17 jaar oud was, het ek ’n beenmurgoorplanting gekry. My tweelingsuster was die skenker. Vandag is ek 50 jaar oud en steeds genees van leukemie. Ek dank God elke dag vir so ’n wonderwerkgenesing!”

Antoinette Makkinje het haar ouma, drie tannies en ’n buurvrou deur kanker verloor. “Dit is hartseer, maar ook genadig; jy het tyd om reg te maak wat verkeerd was en jy wat agterbly, het tyd om tot siens te sê.”

Op 5 Februarie 2014 het Amanda Greyling Coetzer se man aan kanker gesterf. Op 4 Februarie 2016 deel sy dié boodskap met ons op Facebook: “Het gister gehoor ek het kanker . . .”

Wat is kanker?

Daar is meer as 200 soorte kanker. Sommige word genoem na waar dit aangetref word, ander na kliere of bloed.

Die Kankervereniging van Suid-Afrika beskryf kanker soos volg: “Dit is enige kwaadwillige gewas of groeisel wat deur abnormale of onbeheerde selverdeling vorm. As dit nie gestop word nie, kan dit deur die limfstelsel of bloedstroom na ander dele van jou liggaam versprei.”

Gaan na cansa.org.za vir nog inligting oor hoe om risiko vir kanker te verlaag en hoe om daarmee saam te leef.