Die sangeres (50) en haar man (42) is op goeie voet uitmekaar, word berig.

Janet, wat voorheen met James DeBarge (53) en René Elizondo jr. (54) getroud was, het in 2012 afgehaak met Wisaam, ’n miljoenêr-sakeman. Hul seun, Eissa, is in Januarie gebore.

Die privaat paartjie het nog nie sedert die geboorte amptelik kommentaar gelewer nie, maar bronne het aan die tydskrif People gesê “dit gaan goed” met ma en seun. Janet en Eissa het die afgelope maand saam met haar ma, Katherine (86), en suster Rebbie (66) deurgebring. Hulle was in Londen, waar die sangeres voortaan gaan woon.

Janet het verlede jaar uit die kollig getree en van haar Unbreakable-wêreldtoer onttrek. Mense in die binnekring het toe gesê sy wil meer tyd saam met haar man deurbring. Sy het toe ook onthul sy verwag haar eersteling.

“Janet en Wissam het ongelukkig besluit dit werk nie en dat hul paadjies moet skei,” het ’n bron aan die koerant The Mail on Sunday gesê. “Hulle is albei besig, maar vasbeslote om goeie ouers te wees, al is hulle nie saam nie. Die skeiding is vriendskaplik. Eissa sal by sy ma woon, wat haar in Londen sal vestig.”

Enkele dae ná Eissa se geboorte is reeds gegis die twee staan op skei toe Janet sonder haar trouring gewaar is, maar bronne het toe nog volgehou die paartjie is nog saam en baie gelukkig.

Janet het vantevore gesê haar twee mislukte huwelike en vorige romanses het nie uitgewerk nie omdat sy slegte geluk het wat sake van die hart betref. “Ek het gedink ek is vervloek. Of dat die huwelik my dalk net nie beskore is nie. Dalk is dit my skuld dat dit nooit werk nie.”

© Cover Media