Meat Loaf het Donderdagaand, 16 Junie 2016, in Edmonton, Kanada, op die verhoog ineengestort.

Die 68-jarige musikant Marvin Lee Aday, beter bekend as Meat Loaf, was besig om een van sy grootste treffers, I’d Do Anything for Love, in die Jubilee-ouditorium uit te voer toe hy neerval.

Lees ook: Mila Kunis en Ashton Kutcher deel wonderlike nuus

Die video-opname van die konsert wys die musikant waar hy roerloos op die verhoog lê nadat hy oënskynlik sy bewussyn verloor het en verskeie van sy orkeslede en sy bestuurspan hulle na die verhoog gehaas het om na hom om te sien.

Die opname, waartydens Aday glad nie beweeg nadat hy geval het nie, is sowat ses minute lank. Kort ná die einde van die opname is die gehoor gevra om die ouditorium te verlaat.

Die polisie in Edmonton het aan die Canadian Broadcasting Corporation bevestig dat die beamptes gereageer het op ’n mediese noodgeval by die ouditorium. Ambulanse en brandweerwaens was daar te sien.

Die laaste kommentaar wat op Meat Loaf se Facebook-profiel gelewer is, is ’n foto van die ouditorium met die onderskrif: “HEY EDMONTON!!! We’re here!!!”. Onderaan die boodskap het ’n aanhanger die nuus bekendgemaak dat die sanger ineengestort het. ’n Volgende aanhanger, Lynne Legal-Lowe, het geskryf oor haar oorweldigende gevoel van skok en hartseer toe die toneel voor haar oë afspeel.

Sy skryf sy was ook daar en dat dit onwerklik gevoel het. Hy is beslis geliefd en sy ondersteuners het dit die aand bewys. Toe hulle die ouditorium moes verlaat, het die uitdrukkings op almal se gesigte dit gewys. Sy sluit die boodskap af met: “We love you, Meat. Prayers going out.”

Lees ook: Charlie Sheen is ’n proefkonyn vir baanbreker-vigsmedikasie

Nog ’n aanhanger, Lisa Slater, het bygevoeg dit was baie ontstellend om te aanskou. Sy stem saam met Lynne dat almal geskok was. Sy hoop hy is buite gevaar, skryf sy.

Tot dusver was daar nog nie weer nuus oor Aday se toestand op sy Facebook- of Twitter-profiele nie.

Sy ineenstorting het plaasgevind nadat hy vroeër die week uitvoerings in Moose Jaw en Calgary weens ’n onbekende mediese toestand gekanselleer het.

Bron: Cover Media