Die musieklegende Chuck Berry (90) is Saterdag in St. Charles County in die Amerikaanse deelstaat Missouri dood.

[caption id="attachment_164561" align="alignnone" width="600"]Chuck Berry. Foto: Cover Media Chuck Berry. Foto: Cover Media [/caption]

Polisie het op ’n noodoproep gereageer en toe hulle by die Rock 'n' roll-pionier se huis opdaag, het hulle hom bewusteloos aangetref. Daar is gepoog om hom by te bring, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Charles Edward Anderson Berry is in 1926 in St. Louis gebore en het reeds sedert sy hoërskooljare as musikant begin optree.

Hy is bekend vir ikoniese treffers soos Johnny B. Goode, Rock and Roll Music en Sweet Little Sixteen, wat almal reeds in die 1950's uitgereik is.

Hy het drie keer in die tronk beland, onder meer vir gewapende roof en belastingontduiking, maar dit het nooit sy loopbaan gekelder nie en hy het nog tot in sy tagtigs gereeld opgetree.

Kort nadat hy die tweede keer met die gereg gebots het, het Chuck My Ding-a-Ling uitgereik, sy enigste treffer wat ooit in die eerste posisie op Amerikaanse trefferparades gedraai het.

Chuck het selfs ook op 1 Junie 1979 by die Withuis opgetree op versoek van die destydse president, Jimmy Carter.

Hy was ook een van die eerste musikante om ingehuldig te word in die legendariese Rock and Roll Hall of Fame.

Chuck het op sy 90ste verjaarsdag in Oktober verlede jaar aangekondig hy was van plan om sy laaste album in 2017 uit te reik, hoewel hy nooit 'n presiese datum daaraan gekoppel het nie.

Hy word oorleef deur sy vrou, Themetta 'Toddy' Suggs, met wie hy in 1948 getroud is, en hul twee kinders.

Bronne: Cover Media, CNN.