Die sangeres van die treffer Roar en die akteur van Lord of the Rings-faam het begin uitgaan nadat hulle mekaar in Januarie 2016 by die Golden Globes ontmoet het, en is Sondag laas saam gesien by Vanity Fair se makietie ná die Oscars.

[caption id="attachment_161613" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Maar Katy sowel as Orlando se woordvoerders het ’n ietwat vreemd bewoorde verklaring uitgereik om te sê die twee gaan vir ’n ruk elkeen tyd op hul eie deurbring.

“Voor die gerugte . . . handuit ruk, wil ons bevestig dat Orlando en Katy op die oomblik op ’n respekvolle, liefdevolle wyse tyd weg van mekaar af gaan deurbring,” lui die verklaring.

Katy en Orlando het in die blomtyd van hul romanse gereeld tyd saam deurgebring, maar kon mekaar die laaste ruk minder sien weens werksverpligtings. Orlando het verlede November ’n fliek in China gemaak en was verlede maand op ’n Unicef-besoek aan Afrika, terwyl Katy in Londen was waar sy tydens die uitdeling van die Brit-pryse opgetree het. Dis onbekend of die twee se druk werkprogram iets te doen het met hul besluit om die romanse (tydelik) te beëindig. Hoewel hulle die Vanity Fair-partytjie saam bygewoon het, was Katy en Orlando die meeste van die tyd nie in mekaar se geselskap nie. ’n Bron het aan People vertel: “Katy het nie baie tyd saam met Orlando deurgebring nie. Hulle het saam vir ’n foto poseer, maar dit was omtrent al.”

A post shared by KATY PERRY (@katyperry) on

Katy het in Desember oor haar liefde vir Orlando gepraat toe hulle Unicef se 70ste herdenkingsgeleentheid in die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York bygewoon het.

“Hy’s al langer as 10 jaar ’n Unicef-ambassadeur en ek nog net ’n paar jaar lank; hy het my dus touwys gemaak,” het ’n stralende Katy by die geleentheid vertel. “Mense in ’n verhouding leer by mekaar, en ons het baie vir mekaar geleer.”

Orlando kon by die geleentheid op sy beurt nie uitgepraat raak oor sy meisie nie en het aan Entertainment Tonight gesê: “Sy’s ongelooflik. Ek’s baie trots op die werk wat sy doen. Sy spreek tot soveel mense en dis merkwaardig om te sien hoe sy hierdie werk doen en wonderlik dat ons dit saam doen.”

Katy was voorheen met die Britse komediant Russell Brand getroud; Orlando het ’n sesjarige seun by sy eksvrou, die model Miranda Kerr.

Cover Media