Die Kaapstad-fietstoer, in die verlede bekend as die Cape Argus-fietstoer, wat Sondag vir die veertigste keer in Kaapstad sou plaasvind, is afgestel. Nagenoeg 35 000 fietsryers sou aan vanjaar se byeenkoms deelneem. Die toer is hoofsaaklik afgestel weens ongure weerstoestande. Die organiseerders moes Sondagoggend dié ingrypende besluit neem inaggenome die veiligheid van fietsryers wat aan die wêreldbekende fietstoer sou deelneem.

Hulle het die roete vroegoggend aanvanklik tot 78 km verkort vanweë skade wat aan die paaie in sekere gedeeltes van die roete aangerig is.
Rukwinde van tot 50 km/h en wind wat plek-plek tot 100 km/h gehaal het, het volgens die organiseerder nie net die welstand van die ryers bedreig nie, maar die risiko van veldbrande moet ook in ag geneem word.
Onverwante protesaksie het ook tot die aanvanklike verkorting van die roete bygedra.

Daar is besluit dis noodsaaklik dat alle roetes so ver as moontlik toeganklik gehou moet word sodat noodvoertuie by veldbrande wat gereeld opduik, kan uitkom.

Fietsryers wat reeds weggespring het, is op die roete aan die einde van die M3 (van Kaapstad na Muizenberg) voorgekeer.

Huisgenoot-joernalis, Marelize Potgieter (35), was ook vanjaar gereed om die Kaapstad-fietstoer te doen, maar moes saam met die res van die teleurgestelde ryers onverrigter sake terugkeer huis toe.

"Ek was regtig so opgewonde en het die hele seisoen baie hard geoefen. Ek het selfs ’n maand gelede ’n nuwe fiets aangeskaf en was opgewonde om daarmee te ry.

"Ek en my kêrel, Julian Grbich (42), het gisteraand die windvoorspelling met valkoeë dopgehou in die hoop dat dinge sou kalmeer. Toe ons 05:00 opstaan het die wind verwoed buite ons huis waai, maar ons het besluit om tog die groot trap aan te pak.

"Soos ons na die wegspringplek gery het, het sand en grond in ons gesigte gewaai. Maar toe ons sien hoeveel ander ryers ook daar is het ons geweet ons is nie alleen in die ding nie en het opgewonde gevoel."

Julian sou 15 min voor Marelize wegspring en hy was die een wat haar laat weet het ’n aankondiging is gemaak dat die fietstoer gekanselleer is.

"Almal om my was verbaas, veral omdat dit nog nooit gebeur het nie. Ander het gedink dit is ’n grap en daar was selfs die wat hulle humorsin probeer hou het en gespog dat hulle die toer nou onder drie ure kon klaarmaak.

"Die teleurstelling was amper tasbaar tussen almal, maar met ons terugry deur die strate van die stad kon ek voel hoe die wind aan my fiets pluk. Ek het besef dit is dalk beter so. "Tot volgende jaar. Hopelik speel die natuur dan beter saam."

Intussen het die borge bekend gemaak dat die water en kos vir die geleentheid aan die slagoffers van die vernietigende brand wat reuse-skade Saterdag by Houtbaai aangerig het, te skenk.

Verdere bydraes (warm maaltye, kospakkies, komberse, tente, klerasie, boumateriaal, toilteware en ander noodsaaklikhede) kan op die volgende wyse gemaak word:

Finansiële bydraes: Gift of the Givers, Standard Bank, Pietermaritzburg, Rekeningnommer 052137228, Takkode 057525. Stuur jou inbetalingstrokie aan sooliman@giftofthegivers.org vir erkenning.

Donasie-afleweringspunte:

Die Rooi Kruis-kinderhospitaal (Broadweg 21, Wynberg) of in Houtbaai by: Pick n Pay, die polisie- en brandweerstasie en Tula Tula-stigting.