Die verswakte aktrise Zsa Zsa Gabor is die naweek in die ouderdom van 99 jaar oorlede.

[caption id="attachment_151273" align="aligncenter" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Die Hongaars-gebore sosiale vlinder, wat verskeie jare met swak gesondheid gesukkel het, is op Sondag, 18 Desember, oorlede nadat sy ’n hartaanval gehad het, berig TMZ.com.

Die ster (regte naam Sari Gabor) het in die 1930’s met haar loopbaan begin toe die tenoor Richard Tauber haar tydens ’n besoek aan Wene, Oostenryk, ontdek het. Die ontmoeting het tot haar verhoogdebuut gelei nadat Richard haar genooi het om in sy operette, Der singende Traum (The Singing Dream), te sing.

Maar dit was eers in die 1950’s dat Zsa Zsa as ’n aktrise roem verwerf het.

Sy het haar Hollywood-debuut in 1952 losgeslaan met Lovely To Look At en die komedie We're Not Married! met Ginger Rogers voor sy haar groot deurbraak gemaak het met ’n hoofrol teenoor Jose Ferrer in die regisseur John Huston se Moulin Rouge.

Zsa Zsa het later ondersteunende rolle gehad in rolprente soos Death of a Scoundrel (1956) en The Man Who Wouldn't Talk (1958), asook in ’n rits televisieprogramme, onder meer The Life of Riley (1957) en Gilligan's Island (1965), en as ’n lid van die rolverdeling in As the World Turns in 1981.

Sy was later meer bekend vir haar aweregse persoonlikheid van die skerms af en haar sêding “dahlink” eerder as haar akteursloopbaan. Sy het met haarself die draak gesteek in die komedie The Naked Gun 2 1/2: The Smell of Fear van 1991 en The Beverly Hillbillies van 1993, waarin sy gespot het oor haar skuldigbevinding in 1990 omdat sy ’n polisiebeampte geklap het nadat sy afgetrek is.

Daarby het Zsa Zsa die voorval afgelag tydens ’n gasverskyning in Will Smith se sitkom The Fresh Prince of Bel-Air van die 1990’s.

Zsa Zsa het ook bekend geword vir haar onstuimige liefdeslewe – sy was nege keer getroud. Sewe van die huwelike het op ’n egskeiding uitgeloop en een is ontbind.

Een van haar beroemder eggenote was Conrad Hilton – oupagrootjie van die sosiale vlinders Paris en Nicky Hilton – met wie sy in 1942 getroud is. Zsa Zsa het in 1947 aan haar enigste kind – ’n dogter, Constance Francesca Hilton – die lewe geskenk. Maar in haar memoires, One Lifetime Is Not Enough, van 1991 beweer die aktrise die baba is verwek nadat die hotelmagnaat haar na bewering verkrag het.

Haar ander mans was onder meer die Britse akteur George Sanders, ontwerper Jack Ryan, skepper van die gewilde Barbie-pop, en haar negende lewensmaat, die wewenaar Frederic Prinz von Anhalt. Haar huwelik met die Duits-gebore Frederic was haar langste – die twee is in 1986 getroud.

Zsa Zsa se band met haar dogter, Constance, het ook die nuus gehaal. Sy het Constance Hilton in 2005 van diefstal en bedrog aangekla nadat sy haar daarvan beskuldig het dat sy haar handtekening vervals het om ’n lening van R27 miljoen teen haar herehuis in Bel Air, Los Angeles, te bekom.

Die saak is uitgegooi nadat Zsa Zsa geweier het om in die hof te verskyn en die ma en dogter het later weer versoen. Maar Constance het met Frederic uitgeval namate die ster se gesondheid in haar laaste jare agteruitgegaan het.

Die aktrise was deels verlam ná ’n grusame motorongeluk in 2002. Haar gesondheid het in 2005 verder agteruitgegaan ná ’n groot beroerte en in 2007 het sy twee operasies ondergaan om probleme weens die brein-aneurisme te behandel.

Haar gesondheid het in Julie 2010 verswak toe sy haar heup breek nadat sy in haar huis in Bel Air val. Sy het nooit van die ongeluk herstel nie en die helfte van haar regterbeen is in Januarie 2011 afgesit nadat gangreen daarheen versprei het.

Sy is in Mei 2011 vir ernstige simptome weens longontsteking behandel en moes later ’n noodmaagoperasie ondergaan om ’n infeksie te behandel wat weens ’n voedingsbuis ontstaan het.

Maar sy het jare lank voortgestry en beloof sy sou herstel nadat sy in Februarie vanjaar die laaste keer in die hospitaal opgeneem is vir asemnood net twee dae nadat sy haar 99ste verjaardag gevier het.

Zsa Zsa word oorleef deur Frederic, haar negende man, en haar dogter, Constance.

© Cover Media