Hulle glo ’n glas wyn elke dag is die geheim tot ’n lang lewe – en dis presies hoe Pieter en Paulus Langerock op 8 Julie hul 103’de verjaarsdag gevier het.

“Wat is ons geheim? ’n Leeftyd van harde werk, stiptelikheid en ’n goeie glas rooiwyn,” het die twee verlede jaar aan Het Laaste-koerant in België, hul tuisland, gesê.

Nie een van die twee, wat in 1913 gebore is, is ooit getroud nie en hulle leef tot vandag toe saam en deel ’n kamer in hul aftreeoord in Ghent in België. Die twee verkies glo om Frans te praat en Pierre en Paul pleks van Pieter en Paulus genoem te word.

“Ja, Paulus is my beste vriend. Ons is altyd saam,” het Pieter al aan Daily Mail vertel. Die twee het albei as landdroste gewerk en het glo nooit getrou nie omdat nie een van die twee die ander se meisies goedgekeur het nie.

Paulus sê hy het nie veel raad vir mense wat lank wil leef nie, maar glo wel daarin om “nie jou tyd te mors nie, nie te veel te eet nie, en nie vroue na te jaag nie,” berig die nuusagentskap Reuters. Die broers erken ook dat hulle soms spyt is hulle het nooit kinders gehad nie.

Hoewel hulle die wêreld se oudste tweelingbroers is, moet die broers nog die 105-kerf haal voor hulle die rekord kan verbeter. Glen en Dale Moyer, tweelingbroers van Amerika, het tot op 105-jarige ouderdom geleef.

Bronne: telegrapgh.co.uk; ajc.com; theguardian.com; dailymail.co.uk