En die wenner is…Quasi Modo!

Hoewel dit seker debatteerbaar is hoe groot die eer is om as die wêreld se lelikste hond gekroon te word. Maar Quasi Modo, ’n basterbrak van die Amerikaanse deelstaat Florida, het die afgelope naweek met hierdie louere weggestap omdat sy “uitblink in haar lelikheid”. Dié 10-jarige bullterrier gekruis met ’n herdershond het die titel weggeraap onder die neuse van 27 ander hoopvolle honde. Die een so lelik soos die ander.

Sweepee Rambo, ’n tipe Chinese Chihuahua met ’n gespikkelde vel en blonde kuif, was so afskuwelik dat die beoordelaars aan Sweepee die gesogte tweede posisie gegee het.

Gelukkig het die kompetisie ook ’n goeie doel. Meeste van die hondedeelnemers is deur hul eienaars van ’n lewe op straat gered.

So wil die organiseerders ander aanmoedig om ook diere aan te neem, ongeag ’n lelike fisieke voorkoms. Quasi Modo se eienaar het haar by ’n diereskuiling gekry. Sy is gebore met ’n gebreklike ruggraat met haar rug wat te kort vir haar lyf is.

Gelukkig het die kompetisie ook ’n goeie doel.

“Grootmense sien haar aan vir ’n hiëna of ’n Tasmaniese duiwel en spring uit die pad om van haar af weg te kom,” het haar eienaar vertel. “Maar sodra mense haar leer ken, is hulle oorbluf deur haar sprankelende persoonlikheid.”

Gelukkig is dit presies waarop die beoordelaars van die kompetisie fokus: innerlike skoonheid. Ander faktore soos eerste indrukke, ongewone eienskappe, natuurlike lelikheid en persoonlikheid word ook in ag geneem.

Vir 'n gallery van al die lelike brakke wat deelgeneem het, klik hier.

Bronne: CNN; Telegraph