Die Siamese tweeling Lydia en Maya is verlede maand by die Inselspital-hospitaal in Bern, Switserland, gebore as deel van ’n drieling. Hul suster, Kamilla, was gesond. Al was hulle saamgegroei, het Lydia en Maya se toestand geen onmiddellike gevaar ingehou nie. Hul toestand was stabiel en die dokters wou aanvanklik ’n paar maande wag voor hulle die twee skei. Maar ’n week later het die babas se toestand skielik agteruitgegaan. Die een het aan hoë bloeddruk begin ly, terwyl die ander se bloeddruk baie laag was. Dokters was bekommerd oor watter uitwerking hul toestand op die tweeling se brose liggame sou hê en het besluit om hulle vroeër te skei. Lees ook: Verlate eiland waar varke swem

Op die ouderdom van net agt dae het die tweelingsusters die ingewikkelde operasie van vyf uur ondergaan en so moontlik die jongste babas nog geword wat geskei is. Dit was besonder uitdagend om hul lewer te skei, het Barbara Wildhaber, hoof van kinderchirurgie by die Universiteitshospitaal van Genève, gesê. Sy was aan die hoof van ’n mediese span van 13 wat die operasie uitgevoer het en vertel die prosedure het die susters onder baie druk geplaas. “Dit was so ekstreem, ons was daarop voorbereid dat albei sou sterf,” het sy aan die Switserse koerant Le Matin Dimanche gesê. “Maar dit was manjifiek. Ek sal dit my hele loopbaan lank onthou.”

Amper ’n maand later is Lydia en Maya glo goed aan die herstel.

Plaaslike media berig hulle het selfs gewig aangesit en begin moedersmelk drink. “Ons is verheug,” het die babas se pa aan die koerant SonntagsZeitung gesê. “Dit was nie maklik nie. In ’n stadium het ons dit oorweeg om nie met die swangerskap met die Siamese tweeling voort te gaan nie en net die derde kind te hou.” Gelukkig het die dokters die ouers oorreed hulle sou die tweeling kon skei. Lees ook: Vreemde neiging in Thailand waar mense saam met hul poppe vlieg

“Die volmaakte spanwerk van dokters en verpleegpersoneel uit verskeie dissiplines het hier die deurslag gegee,” sê Steffen Berger, hoof van kinderchirurgie by die Bern-hospitaal. “Ons is bly die kinders en ouers vaar nou so goed.”

Die twee se merkwaardige verhaal het ’n spesiale plek in die geskiedenis van Switserland; die afgelope 30 jaar het net twee stelle Siamese tweelinge daar ’n skeidingsoperasie oorleef.

Na raming leef daar wêreldwyd net 200 saamgegroeide tweelinge. Die oorlewingskoers van dié tweelinge is tussen 5 en 25 persent. Nes gesonde tweelinge ontwikkel hulle uit ’n enkele eiersel, maar dit skei dan nie heeltemal nie.

Bronne: bbc.co.uk, telegraph.co.uk, swissinfo.ch, dailymail.co.uk