Kan jy jou so iets indink? Jou baas gee al 120 sy werknemers ’n stewige verhoging; trouens, hy maak seker elkeen verdien minstens R1 miljoen per jaar.

Hoe sal jy reageer?

Wel, Dan Price, die uitvoerende hoof van Gravity Payments, ’n finansiële maatskappy, se werknemers het die perfekte manier bedink om hom vir sy vrygewigheid te beloon.

Sy span het kragte saamgespan en vir Dan ’n peperduur donkerblou Tesla-motor aangeskaf. Dié bedryfshoof het Donderdag foto’s van sy nuwe speelding op sy Facebook-blad gedeel.

“Ek kan dit steeds nie glo nie. Gravity-werknemers het gespaar en oor ses maande geld ingesamel om vir my my droomkar te koop,” verduidelik hy in ’n inskrywing.

Dan se nuwe Tesla Model S-spogmotor kos ook heel gepas R1 miljoen, presies hoeveel hy sy werknemers se minimum salaris gemaak het.

Volgens ’n woordvoerder van Gravity, Ryan Pirkle, het die idee om Dan se goeie daad met ’n spogmotor te beloon gekom van Alyssa O’Neal. Dit was glo omdat sy een van sy werknemers is wat die meeste geraak is deur die verhoging.

Die vrygewige Dan het voorts gesê hy is so geskok deur die goeie gebaar dat hy nie weet hoe om dankie te sê nie. “Ek het nooit gedink dis moontlik nie. Ek is steeds in skok. Hoe begin ek dankie sê,” was sy oorblufte woorde.

Die span het ook vir Dan ’n boodskap geskryf en hom bedank dat hy die span altyd eerste stel. “Met hierdie geskenk wys ons hoe baie jou opoffering vir ons beteken,” het die boodskap gelui.