Jare reeds red die oorplanting van noodsaaklike organe soos niere, lewers en harte lewens. Nou gaan ’n oorplanting vir die eerste keer nuwe lewe skep wanneer die eerste baba uit ’n oorgeplante baarmoeder binnekort gebore word.

Volgens The Daily Telegraph gaan die ma, wat een van nege vroue is wat tussen 2012 en 2013 die oorplantings ontvang het, binnekort die lewe skenk. Sy het die baarmoeder by haar ma gekry en gaan daarom ook die eerste kind hê wat uit dieselfde baarmoeder as sy/haar ma kom.

Die oorplantings is deel van navorsing in Swede, en al die vroue is óf sonder ’n baarmoeder gebore óf moes hul baarmoeder laat verwyder weens servikale kanker.

Die vrou se eierselle is voor die operasie verwyder en die baarmoeder is met in vitro-bevrugting bevrug.

Volgens dr. Mats Brannstrom, die leier van die oorplantingspan, “sal ’n suksesvolle swangerskap ’n belangrike bewysstuk wees dat dié operasie nou beskikbaar is om baarmoederonvrugbaarheid te genees”.

Die vroue moet ’n reeks pille drink om te keer dat hul liggaam die baarmoeders verwerp, en die baarmoeders gaan daarom ná twee swangerskappe verwyder word. Die pille kan newe-effekte soos hoë bloeddruk, swelling en diabetes hê.

Kenners het die projek as insiggewend bestempel, maar sê dit is onseker of die oorplantings tot gesonde babas sal lei.

“Ons sal nog moet sien of dit ’n werkbare uitweg is en of dit beperk gaan bly tot navorsing en eksperimentering,” sê dokter Yacoub Khalaf, die hoof van die ondersteunde bevrugtingseenheid by Guy’s and St. Thomas-hospitaal in Londen.

Mieke Vlok

Bronne: Sapa, The Daily Telegraph