'n Gyselaardrama is besig om af te speel in 'n kafee in Sydney, Australië.

Volgens berigte is skote gehoor en is 'n Islamitiese vlag deur 'n venster vertoon. Die kafee is glo 50 meter van die Amerikaanse konsulaat wat intussen ontruim en gesluit is. 'n Onbekende aantal mense is in die gebou gyselaar geneem, maar drie persone het intussen uit die kafee gehardloop en word tans ondervra. Volgens die polisie lyk dit nie op hierdie stadium of daar enige beserings of sterftes is nie.
'Ons weet nie of dié optrede polities gemotiveer is nie.'

"Ons weet nie of dié optrede polities gemotiveer is nie, hoewel daar 'n aanduiding is dat dit wel die geval mag wees," het die Australiese premier, Tony Abbott, op 'n nuuskonferensie gesê.

Hy het Australiërs aangemoedig om normaalweg met hul lewe voort te gaan, want "die oogmerk met polities gemotiveerde geweld is om mense bang te maak om hulself te wees".

Vroeër het twee mense - vermoedelik gyselaars - 'n Islamitiese vlag waarop daar in wit letters in Arabies geskryf is deur 'n venster van die Lindt Chocolat Café in Martin Place gewys.

Plaaslike nuuskanale het beeldmateriaal vertoon van 'n middeljarige man met 'n kort, silwergrys baard en 'n swart doek om sy kop wat met mense in die eetplek praat en aan hulle beduie.

Hy het 'n swart rugsak gedra en was geklee in 'n wit T-hemp en swart frokkie. Daar was teen omstreeks 05:45 (SA tyd) nog geen kontak tussen dié man en die polisie nie.

Die gebied is afgesper en die staatsparlement daar naby is gesluit. Personeellede is aangesê om in hul kantore te bly en die deure te sluit.

Burgerlike vlugte oor die sentrale sakegebied van Sydney is herlei. Na wat berig word is dit gedoen om veiligheidsmagte toe te laat om helikopters te gebruik, indien nodig.

Volgens ooggetuies is 13 mense binne die kafee gyselaar geneem.

Lindt Australië se uitvoerende hoof, Steve Loane, het aan news.com.au gesê hy meen daar is 40 tot 50 mense in die gebou. Dit sluit klante en personeellede in.

Sapa-AFP berig uit Washington dat pres. Barack Obama van die VSA deur Lisa Monaco, die president se top-teenterrorisme-adviseur, oor die situasie in Sydney ingelig is.

- Sapa