“Ons is op pad uit. En ons sal weer onderhandel en kyk of ons nie ’n beter ooreenkoms kan bereik nie. As ons kan, is dit wonderlik. Indien nie, is dit ook reg so.”

Sirië en Nicaragua is die enigste ander twee lande ter wêreld wat nie lid is van die ooreenkoms nie. Trump is ontevrede met die ooreenkoms en sê hy is op soek na een wat regverdiger is teenoor Amerika.

“Ons wil nie hê nog lande moet vir ons lag nie. Die Parys-ooreenkoms is bloot die jongste voorbeeld van Washington wat ’n ooreenkoms sluit wat Amerika benadeel en ander lande net bevoordeel.

“Amerikaanse werkers, vir wie ek baie lief is, en belastingbetalers moet dan die koste, laer lone, fabrieke wat toemaak en ekonomiese vervaardiging wat agteruitgaan probeer oorleef.”

Die ooreenkoms behels dat elke land ’n bydrae lewer om aardverwarming te probeer teenwerk. In Desember 2015 het byna elke land ter wêreld ooreengekom om uitlaatgasse wat tot aardverwarming lei, te begin hokslaan.

Trump het dit reeds in die verlede duidelik gemaak dat hy nie oortuig is klimaatsverandering is ’n ernstige probleem vir die wêreld nie.

Die Suid-Afrikaans gebore sakeman Elon Musk en Robert Iger, die uitvoerende hoof van die Walt Disney-groep, het kort nadat Trump sy aankondiging gemaak het, laat weet hulle bedank uit die presidensiële raad omdat hulle gekant is teen sy jongste skuif.

Die voormalige Amerikaanse president Barack Obama het ook sy teleurstelling met Trump se jongste besluit uitgespreek.

“Die lande wat deel van die Parys-ooreenkoms bly, sal die lande wees wat die vrugte pluk wat werkskepping en nuwe bedrywe betref,” het Obama in ’n verklaring gesê.

“Ek glo Amerika behoort voor te vat wat hierdie besluit betref.”

Bronne: Independent.co.uk, Telegraph.co.uk, Newsweek.com, Nytimes.com.