Wentworth Miller het homself talle kere probeer doodmaak toe hy ’n tiener was.

Die voormalige ster van Prison Break, wat onlangs erken het hy is gay, het onthul dat hy op 15 die eerste keer sy lewe probeer neem het omdat hy dit nie kon verdra om sy seksualiteit geheim te hou nie.

Hy het gesê: “Elke dag was ’n toets en daar was ’n duisend maniere om te misluk, ’n duisend maniere om jouself te verraai, om nie aan iemand anders se standaard van wat aanvaarbaar of normaal is, te voldoen nie.

“Ek was 15 toe ek myself die eerste keer probeer doodmaak het. My gesin was vir die naweek weg en ek was alleen tuis en het ’n bottel tablette gedrink. Ek kan nie onthou wat die volgende paar dae gebeur het nie, maar ek is nogal seker dat ek die Maandagoggend weer op die bus skool toe was, en probeer voorgee het dat alles reg was.”

Die Britse akteur het ook Saterdagaand 7 September by ’n ete van die groep LGBT (Lesbies, Gay, Biseksueel en Transgender) in Seattle gesê dat die voorval nie eenmalig of ’n hulproep was nie omdat “jy net om hulp roep as daar hulp is om te roep”.

Die 41-jarige akteur het verlede maand die eerste keer onthul dat hy gay is toe hy standpunt inneem teen Rusland se onlangse wetgewing teen gays deur in ’n ope brief te weier om die St. Petersburgse internasionale filmfees by te woon.

Volgens die skinderwebtuiste TMZ.com het Wentworth ook aan gaste by die ete gesê dat hy besluit het om te bevestig dat hy gay is omdat hy ’n rolmodel vir ander wil wees “om die iemand anders te wees wat niemand vir my was nie”.