Die pragtige Endeah Cakrawati (30) was aan boord van die 1948 Grumman G-73 Mallard wat op Australië Dag in die Swanrivier neergestort het. Saam met haar was haar lewensmaat, die vlieënier Peter Lynch (52), pa van drie.

Volgens berigte was Endeah aanvanklik senuweeagtig en sou sy nie saamgevlieg het nie. Sy het wel van plan verander op die laaste nippertjie. Vir haar vriende het sy laat weet dat sy wel senuweeagtig is “maar super-opgewonde”.

Kyk video: Twee sterf toe vliegtuig in Swanrivier neerstort

“Ek kan dit doen, wens my voorspoed toe,” was haar laaste wens. Ook Peter het sy bedenkinge oor die weerstoestande gehad. Hy het sy kommer oor die gebrek aan wind en die gepaardgaande hitte met sy vriend Mack McCormack in teksboodskappe geopper, kwalik ’n halfuur voor hulle van Serpentine-lughawe opgestyg het. Hy het ook nog nooit vantevore op dié rivier geland nie. Mack self het die ramp vanaf die Barrackstraat-kaai aanskou. Hy het na bewering onmiddellik geweet dit gaan fataal wees toe hy sien die vliegtuig tref die water.

Sondag het News.com.au eklusief onthul dat Endah haar laaste oomblikke op video vasgelê het en op Instagram gedeel het.

Sy gesels vrolik terwyl hulle vir die vlug voorberei en na die aanloopbaan taxi. Dit lyk byna of sy self ook ewe behendig met die stuurstokke is.

“In Perth en reg vir Skyworks vandag,” sê sy op die video terwyl sy haar volgelinge ’n vrolike Australië Dag toewens. Kort daarna het die vliegtuig neus eerste in die Swanrivier neergestort en in stukke gebreek. Geskokte toeskouers wat reeds byeen was vir die Skyworks-vertoning was stomgeslaan. Waarnemende kommissaris Stephen Brown was ’n ooggetuie van die ramp. “Ek het met my rug na die rivier gestaan en na die suide van die kaai gekyk. Ek het lewendige toevoer in my oor gehad terwyl ek besig was om met nuuskanale onderhoude te voer toe ek die verandering in die vliegtuig se klank bo my kop hoor.

“Die mense wat voor my gestaan het, se aandag was duidelik afgetrek deur wat hulle gesien het. Ek het omgedraai nadat ek my prate gepraat het en het gesien dat die vliegtuig neergestort het. Dit het duidelik in minstens twee groot stukke opgebreek.”

Die vermoede bestaan dat Peter en Endah op slag dood is.

Perth se burgermeester, Lisa Scaffidi, het gesê dat Peter die vliegtuig oorgebou het en dit vanaf Amerika oor die Stille Oseaan na Australië gevlieg het. Peter het glo die vliegtuig van 2011 besit en het reeds meer as 120 uur vliegure daarmee agter die rug.

Bronne: news.com.au, perthnow.com.au