.

So sê Chris Kuch, woordvoerder van die Nasionale Dierebeskermingsvereniging. “Dinge gebeur, maar daar is so baie goed wat ouers hul kinders kan leer.”

Huisgenoot het haar genader ná berigte dat klein Jolizne Bester (17 maande) van eMalahleni (Witbank) se oor geamputeer is nadat die gesin se Jack Russell, Bakkies, dit verlede week afgebyt het.

Chris gee raad:

  • Sê altyd eers ’n hond se naam voor jy aan hom vat.
  • Moet nooit jou hand in ’n hond se bak sit of kos met hom deel nie – hy sal sy kos beskerm.
  • Moet nooit aan ’n hond vat voor jy nie eers die eienaar se toestemming gevra het nie. Sommige honde sosialiseer makliker as ander.
  • Moet nooit aan ’n hond vat wat los rondloop nie. Dit kan ’n besering hê of verwilderd wees. Bel eerder die Dierebeskermingsvereniging as jy oortuig is die hond is verlore.
  • Bly weg van honde wat vasgemaak, beseer of siek is. Jy kan goeie bedoelings hê, maar dit is beter om beseerde en siek honde in die sorg van kenners te los.
  • Bly kalm rondom honde en vermy vinnige bewegings. Die hond kan skrik en aggressief reageer.
  • Moenie aan ’n hond vat wat slaap nie, hy kan skrik en na jou hap.
  • Moenie na ’n hond staar nie; hy sien dit as ’n uitdaging.
  • Wanneer ’n hond op jou afstorm, moet jy die houding van ’n boom inneem. Staan stil, los alles wat jy vasgehou het, vou jou arms oor jou bors en onthou om nie te skree of jou arms te swaai nie. Wanneer die hond wegbeweeg, moet jy stadig agteruit stap.

Volgens Chris kan ’n mens nie regtig onderskei tussen soorte honde wat meer of minder aggressief is nie en hang dit baie van die hond se teling en omstandighede af.

Deur Marelize Potgieter