’n Nuwe baba raak alle aspekte van jou lewe – sosiaal verkeer, inkopies en veral slaap. Dit is byna onmoontlik om ’n volle nagrus te kry wanneer daar ’n pasgebore baba is wat blou moord skree, en soos die jare aanstap, gaan daar ander redes wees wat jou gaan wakker hou, soos jou kind wat ’n nagmerrie kry of die bed natmaak. Ja wat, ma’s het dit nie maklik nie.

Dit voel dalk asof jy nooit weer gaan slaap nie, maar daar is maniere om dit te hanteer wat bekendstaan as “momsomnia”.

Die webtuiste The Stir het gepraat met die kenner dr. Ronald Kotler, die skrywer van 365 Ways to Get a Good Night’s Sleep en die mediese direkteur van die Pennsylvania Hospital Sleep Disorders Center. Hy glo vroue is ingestel om lig te slaap ná die geboorte van hul baba sodat hulle wakker genoeg is om die baba snags te hoor huil. Hy verstaan ook dit is moeilik vir ma’s om daardie fase agter te laat.

  1. Hy stel eerstens voor ma’s maak seker die slaapkamer is reg vir slaap. Is dit donker genoeg? Is die temperatuur reg sodat jy nie snags bibberend of swetend wakker skrik? Dit is ook belangrik dat jou kussing en matras ook reg is; jy wil hê jou liggaam moet ontspan wanneer jy in die bed klim. Terwyl party mense dink ’n aandsnapsie is die antwoord op ’n rustelose nag, is dit nie die geval nie. Vermy alkohol en koffie te na aan slapenstyd; dit gaan jou net langer uit die slaap hou.
  2. ’n Pediater kan jou en jou baba help. Praat met ’n kenner en sien of hulle jou en jou baba se slaappatroon kan help sinchroniseer; julle gaan op lang termyn die vrugte daarvan pluk.
  3. As daar ander simptome buiten jou slapeloosheid is, sal jy moet oorweeg of daar nie iets anders ook fout is nie. Ma’s is meer geneig tot depressie en angs nadat hulle die lewe geskenk het, wat langer kan duur as dit nie hanteer word nie. Vors die tekens van hierdie toestande na en vergewis jou van hulle; soek hulp as jy dit by jouself raaksien.
  4. Steun op ’n maat; dit kan jou in ’n goeie slaappatroon help terugkom. Jy gaan lê en is reeds paniekerig oor slaap en bekommer jou oor die baba wat kan wakker skrik. Vra jou wederhelf vir ’n paar trooswoorde. Dit kan jou kalmeer en makliker laat slaap; julle kan selfs ook net ’n bietjie lepellê wanneer julle saans inkruip. Maak seker julle deel ook die plig om na die baba te kyk, eerder dat jy alleen daarvoor moet sorg.

- Cover Media

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.