Ses dae lank het Suid-Afrikaners asem opgehou oor nuus van klein Mongezi Phike se veilige terugkeer en getreur oor die gru-dood van die vierjarige Taegrin Morris – albei slagoffers van kapings. Dit is onmoontlik om die betrokkenes se pyn te probeer begryp.

Hierdie twee voorvalle het Suid-Afrikaners geskok en in vrees gelaat dat dieselfde met hulle sou gebeur. Gevolglik het Cartrack, wat spesialiseer in voertuig-opsporing en die terugkry van gesteelde voertuie, gesê hulle is oorval met oproepe van bekommerde ouers wat raad vra oor wat om te doen as hulle ooit gekaap word en hul kinders is ook in die motor.

Terwyl die werklikheid van so ’n situasie vreesaanjaend is, is dit dalk ’n goeie idee om die situasie met jou gesin te oefen en, as jou kinders oud genoeg is, hulle te verduidelik hoe om te reageer en kalm te bly. Dit is baie belangrik om te weet hoe kapers te werk gaan, hoe om ’n kaping te vermy en wat om te doen as jy ooit gekaap word.

Hier is ’n paar praktiese wenke oor hoe om ’n kaping te voorkom (en te hanteer):

  1. Wees altyd bewus van wat om jou aangaan.
  2. Volgens statistieke vind die meeste kapings tussen die middag vieruur en die aand tienuur plaas, veral op ’n Vrydag. Die meeste kapings vind in die slagoffer se oprit plaas.
  3. Dit is belangrik om te besef daar is dikwels niks anders om te doen as om jou samewerking te gee nie.
  4. As jy om die een of ander rede nie ’n kaping kan vermy nie en jy word uit jou voertuig gedwing terwyl jou kind steeds in die motor is, kan jy die motorsleutels uithaal en onderhandel in ruil vir jou kind.
  5. Dit klink dalk moeilik, maar probeer kalm bly. Die kaper gaan op jou reaksies reageer.
  6. Erken die kaper se teenwoordigheid, moenie oogkontak maak nie en hou jou hande waar hulle dit kan sien.
  7. Maak seker jou kind se motorsitplek is agter die passasiersitplek. Dan is dit maklik vir jou om net jou arm agtertoe uit te steek en jou kind se gordel los te maak. Vermy dit om eers uit die motor te klim en dan om dit te stap om jou kind uit te haal.
  8. Probeer om nie eerste uit die motor te klim end an eers jou kind by die agterdeur uit te haal nie.
  9. As jou kinders oud genoeg is, kan jy die kinderslot van jou deure afhaal en jou kinders te sê om hul gordel los te maak, uit die motor te klim en na ’n veilige afstand te beweeg.
  10. Laat die kapers te alle tye weet wat jy gaan doen en moenie enige skielike bewegings maak nie.