Die Stellenbosse sakevrou Wendy Appelbaum is pas aangewys as die rykste vrou in Suid-Afrika.

Wendy is een van 4 400 Suid-Afrikaanse vroue wat dollar-miljoenêrs is. Haar welvaart beloop sowat R2 biljoen, ’n tiende van die totale rykdom van al die dollar-miljoenêrs in Suid-Afrika.

Sy is die vrou wat verlede jaar die Auction Alliance-byenes oopgekrap het, die afslaers wat ondersoek word vir beweerde bedrog deur onwettige betalings aan likwidateurs, prokureurs en banke.

Op haar plaas DeMorgenzon naby Stellenbosch besef jy met die intrapslag Wendy laat nie met haar mors nie. “Genadetjie tog, moet my net nie ’n biljoenêr noem nie. Ek’s keelvol vir dié beskrywing,” blaf sy. In ’n eenvoudige wit linnehemp en -broek en bruin mokassins lyk sy inderdaad nie na ’n vrou met ’n rykdom van sowat R2 biljoen nie. Maar die bonkige juwele is goud en die sonbril Prada . . .

Sy staan dikwels al vyfuur op om haar administrasie op die hoogte te bring. Sy noem haar ’n beheervraat, en sy hou duidelik haar uitgebreide sakebelange met ’n arendsoog dop. Sy’s so bedrywig dat sy nooit televisie kyk nie, want tussendeur teel sy met renperde en is ook ’n kranige gholfspeler.

Die Appelbaums se herehuis op ’n heuwel in die hart van die wynland is ’n lushof wat jou laat voel asof jy ’n Italiaanse villa betree het: binneplein en onthaaldeel met antieke skilderye en eksotiese versierings en al.

Maar dis die uitsig waarop sy veral trots is. Ongeduldig skarrel sy vooruit om jou die skouspelagtige vista vanaf die voorstoep te wys. Aan die regterkant troon Tafelberg in die verte, voor jou strek die Skiereiland en Valsbaai se see blink in die middagson uit. Links lê die majestueuse Stellenbosse berge. ’n Mens kan jou maar net voorstel hoe betowerend die sonsondergang hier moet lyk.

Wendy praat nie graag oor haar rykdom nie. Volgens Forbes spruit dit deels uit die sakeryk van haar pa, Donald Gordon, die stigter van die Liberty-groep. Maar sy is ’n gedugte sakevrou uit eie reg en ’n filantroop. Sy werk gedurig om die Gordon-familiefortuin en haar eie sakebelange regverdig en verstandig te bestuur; daarom onderskei sy noukeurig tussen welsyn en filantropie.

“My filosofie is om soveel moontlik terug te gee, maar ons projekte is nie welsyn nie. Filantropie beteken jy maak groter, betekenisvolle skenkings wat langdurig volhoubaar is en mense selfonderhoudend maak.”

Sy bestuur haar eie stigting om vroue se opvoeding en gesondheid te bevorder. Dan is sy ook ’n trustee van die Donald Gordon-stigting, een van die grootste privaat stigtings in die land, en dien in tientalle rade en besture, soos dié van die Wits Donald Gordon Mediese Sentrum. Sy is veral trots op die Gordon-instituut vir Sakewetenskap se bydrae tot die sakesektor.

Die projekte wat haar die naaste aan die hart lê, is dié ter bevordering van die vrou se gesondheid en bemagtiging. Sy vertel begeesterd van die opheffing van vroue op plase en ondersteuning aan behoeftige vroue met borskanker.

Bronne: dieburger.com, Huisgenoot 15 Maart 2012.