Hy het jare terug ’n hand gehad in sy skoonpa se moord, hy het al hy ’n slinkse plan beraam om sy skoonma te laat glo dat sy weens haar ouderdom aan amnesie ly en hy het ook al ’n paar keer een van sy skelm trawante gekry om moeilikheid by die Suidooster Sentrum te stook.

En Ian, wat deur Abduraghmaan Adams vertolk word, is nie een enkele keer uitgevang nie. 

Maar het dié slinkse eiendomsmagnaat eindelik tot ’n val gekom?

In Maandagaand se episode van kykNET se gewilde sepie kon kykers toekyk hoe die polisie onverwags by Suidooster Eiendomme opdaag en Ian in hegtenis neem.

“Soos JR Ewing van Dallas-faam is Ian lief vir magspeletjies en het hy nog bitter min gehuiwer om iets onderduims te doen om sy eie sak aan te vul nie,” sê Abduraghmaan oor sy karakter.

Ian se skoonsuster en aartsvyand, Lee-Ann Jacobs (Portia Joel), het verlede week snuf in die neus gekry dat iets nie pluis is met Suidooster Eiendomme se trustrekening nie. Hoewel Ian aan die stuur van dié maatskappy staan het Lee-Ann ook aandele daarin. 

Met die hulp van Rhafiek Samsodien (Irshaad Ally) en Chris du Plooy (Marcel van Heerden) het hulle agter die kap van die byl gekom dat Ian groot bedrae geld uit die trustrekening ontrek soos hy goeddunk – waarskynlik om sy talle skelmstreke te finansier. 

Ian het wel agtergekom dat Lee-Ann sy doen en lates gaan blootlê en alles in sy vermoë probeer doen om sy spore dood te vee, maar toe daag die polisie by sy kantoor op. Hy is toe voor Lee-Ann en die geskokte personeel in hegtenis geneem. 

Maar, gaan Ian homself uit die situasie kan wikkel?

Volgens Abduraghmaan, kan hy nie te veel verklap oor wat op sy karakter wag nie, maar wat hy wel kan sê is dat die Octobers se hele wêreld in duie gaan stort. 

“Ongelukkig vir Ian het sy dade ernstige gevolge en sy vrou, Bridgette (Denise Newman) gaan selfs by haar ma en Lee-Ann moet intrek, terwyl Ian moet gewoond raak aan die lewe in die tronk.”

“Maar, Ian maak altyd ’n plan en kykers gaan waarskynlik vasgenael voor die TV sit om te sien of hy in een stuk aan die ander kant gaan uitkom . . .” sê Abduraghmaan. 

Om vir kykers ‘n voorsmakie te gee van wat op Ian wag, het Suidooster vir Huisgenoot ‘n paar foto’s beskikbaar gestel van hoe Ian in sy tronkdrag lyk. 

Ian October agter tralies. Foto: Verskaf

Kyk hier na die video:

  • Suidooster word Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en kykNET & kie uitgesaai.