Is jou kleinding versot op musiek, maar jy’s nie seker watter albums of DVD’s om te koop nie? Dan som die Ghoemas se benoeminglys van die jaar se beste kinderalbums en -DVD’s alles vir jou op. Vyf gelukkige lesers kan ook al vyf albums en wen! Lees hier hoe.

Carike & Ghoempie kuier saam met Ghoeghoe in Kinderland Vol.10 – ’n Viering van 10 jaar in Kinderland

Carike Keuzenkamp -- Carike & Ghoempie kuier saam met Ghoeghoe in Kinderland Vol. 10 (CD)

Formaat: DVD en CD (albei apart vir ’n Ghoema benoem)

In kort: Ná 48 jaar as uithalersanger kuier Carike Keuzenkamp vir die tiende keer saam met Ghoempie en Ghoeghoe in Kinderland. En as jy die eerste nege volumes van dié kinderreeks misgeloop het, moenie bekommer nie: Volume 10 is ’n versameling van al die vorige avonture se liedjies.

Gunsteling-liedjies: Heidi, Pinocchio, Die Bokke, Haas Das se Nuuskas, Old Macdonald, Liewe Heksie, Die Lappop

Gemik op: Kleuters tussen twee en ses jaar oud.

Waar kan jy dit koop? Winkels landwyd.

Elizabeth Fourie: Saam Sing Liedjies

Elizabeth Fourie -- Saam Sing Liedjies

Formaat: CD

In kort: Elizabeth Fourie, wat verlede jaar deur die Voorskoolse Onderwys en Sorg (VVOS) vereer is vir haar bydrae tot kindermusiek, het ouma geword en besluit om 20 van haar gunsteling-kinderliedjies op hierdie superalbum op te neem; dit sluit bekende én tradisionele liedjies in, asook van haar eie komposisies, waarvan sewe onlangs in die FAK-sangbundel opgeneem is. Twee van die liedjies is in onderskeidelik Engels en Sotho, en haar manlief, Francois, wat al 30 jaar saam met haar musiek maak, sing saam en behartig van die agtergrondsang en geluide.

Gunsteling-liedjies: Wielie Walie-keurspel, Die Muis, Hasie, My Hartjie My Liefie, Paddatjie

Gemik op: Kleuters en kinders tussen nul en 11 jaar oud.

Waar kan jy dit koop? Goeie musiekwinkels, op francois-en-elizabeth.co.za, of kalahari.com

Oom Karoolus en Lente – Die Moewie

Oom Karoolus en Lente -- Die Moewie

Formaat: DVD

In kort: Wanneer Karoolsie ’n onverwagse pakkie in die pos kry, gaan hy en Lente op ’n skattejag. Terwyl hulle op pad is na Oom Karoolus se oupa se plaas, waar die skat êrens weggesteek is, steel twee skelms Oom Karoolus se kar terwyl Lente op die agtersitplek slaap. In haar onskuld, erken Lente aan hulle sy en Oom Karoolus was eintlik op pad om ’n skat te soek – en natuurlik stel die skelms dadelik daarin belang. Met Cor Uys, Leon Ferreira, Ghapi, Bouwer Bosch, Steyn Fourie en Letitia Uys in die hoofrolle, bied die rolprent pret vir jonk en oud.

Gemik op: Laerskool- en selfs hoërskoolkinders.

Waar kan jy dit koop? Geselekteerde boekwinkels, soos CUM Books en Gospel Direct, of SMS die woord MOEWIE na 33075 vir meer inligting.

Pienkvoet Lof Vol. 2 met Leza Liversage

Pienkvoet Lof Vol. 2 -- Pienkvoet Lof Vol. 2

Formaat: DVD (met ’n bonus-CD)

In kort: Pienkvoet Lof Vol. 2 is ’n lof- en aanbiddings-DVD in Afrikaans, wat met die hulp van Hettie Brittz (skrywer en kindergedragkenner) ontwikkel is. Die 14 liedjies word met beelde en voorgestelde aktiwiteite geïllustreer, wat al jou kleuter se sintuie betrek, en hulle sal aanmoedig om te klim, rol, hardloop, speel en pret te hê. Die bonussnitte sal ouers help met idees om geestelik, emosioneel, fisiek en verstandelik vir hul kinders ’n wonderlike grondslagfase te gee. Dertien van die liedjies is ook op ’n bonus CD verpak, wat jy vir die langpad kan saamneem.

Gunsteling-liedjies: Kyk hoe dat die voëltjies vlieg, Die liefde van Jesus is wonderbaar, Hy hou die hele wêreld in Sy hand.

Gemik op: Kleuters van 18 maande tot vier jaar oud.

Waar kan jy dit koop? Enige goeie musiekwinkel, CUM Books, of worshipconnection.co.za.

SMS en wen

Vyf gelukkige lesers kan al vyf albums en DVD’s wen. SMS die woord KINDERS, jou antwoord, jou naam, van en adres na 34922. Elke SMS kos R1,50. Inskrywings sluit op Maandag 31 Maart om 17:00. VRAAG: Watter kunstenaars het vanjaar twee benoemings vir Beste Kinderalbum of –DVD by die Ghoemas gekry? Die borge is verantwoordelik vir die verskaffing van die pryse binne ’n redelike tyd. Wenners sal hul pryse in afsonderlike pakkies ontvang.