Inwoners van die rustige Bolandse dorp Wellington is geskok nadat Winnie Rust (77), ’n bekende skrywer en jare lange inwoner, Woensdagmiddag dood in haar huis aangetref is.

“Dit is vir ons almal ’n baie groot skok,” het Jessica du Toit, ook ’n inwoner van die Uitsig-woonbuurt waar die prominente Wellingtoner vermoor is, gesê.

Drie jaar gelede is ook Daan en Erika Rosseau drie huise van waar die Du Toit-gesin bly, vermoor.

Winnie en haar man, dr. Manie Rust (87), is alombekend in die dorp. Luidens berigte het haar man haar dood op die kombuisvloer aangetref na die voordeurklokkie hom uit sy middagslapie laat ontwaak het.

“Ons buurtwag se WhatsApp-groepie het ons eerste van die moord laat weet, maar hulle het gevra ons moet dit stilhou tot die polisie die familie kon verwittig. Dit laat ’n mens ongelooflik ongemaklik voel as jy berigte lees waarin hulle sê sy het beserings aan haar gesig gehad en haar voete is vasgebind.

“Maar ons weet niks meer as wat tans op sosiale media en in die koerante gesê word nie,” het Jessica verduidelik.

Luidens berigte het Manie sowat 15:30 op sy vrou se lyk afgekom. Die motief van die moord op Winnie is in die stadium nog onbekend, sê konstabel Noloyiso Rwexana, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder. ’n Nadoodse ondersoek sal op haar lyk gedoen word om die oorsaak van haar dood te bepaal. Die polisieondersoek sal voortgaan onder leiding van speursersant Nico de Lange van die Wellington-polisie. Winnie was ’n gesogte skrywer en van haar bekendste boeke sluit in Margie van die Seminary en ander verhale, Trek, Countess of Stamford en Martha: ’n Verhaal oor Martha Solomons.

Sy het in 2005 die kortlys vir die Jan Rabie-Rapportprys gehaal vir haar boek oor Martha Solomons. Sy word oorleef deur vier kinders en ses kleinkinders.

Ander stories op Huisgenoot.com

‘Dapper’ sewejarige kap kop oop nadat hy uit bewegende trein gesuig word

Wat broei deesdae tussen Ben en Jen?

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag

Ontstoke ma skryf ope brief aan skoonma’s

Hierdie gr. 2-wiskundevraag slaan almal dronk – kan jy dit oplos?