Elana Hugo skryf haar hart oop én uit oor Sunita, oftewel Soens, wat op 10 Mei 2017 saam met haar man, Jacques, in hul afgebrande huis naby Wellington in die Wes-Kaap gesterf het.

“Kom ek en jy wees gou eerlik met mekaar: hierdie is nie wie jy was nie. Die laaste paar maande van jou lewe het jou sprankel uitgedoof. Ek wens ek was meer present.  Ek wens ek het meer notisie geneem. Kind, ek verlang na lag saam met jou,” skryf Elana.

Ons het jou hart so goed geken omdat jy nie van hom ‘n moordkuil gemaak het nie.

In haar blog vertel sy hoe sy na KwaZulu-Natal gegaan het om weg te kom van al die nuus oor Sunita sodat sy haar kan onthou vir wie sy regtig was.

"Soens, jou foute definieer jou nie vir my nie. Nie vir een van ons wat naby aan jou was nie. Ons het jou hart so goed geken omdat jy nie van hom 'n moordkuil gemaak het nie. Ons is nie blind vir die feit dat jy aangejaag het nie, maar niks van hierdie sensasiegedrewe storie faze (sic) ons nie.”

Elana vergelyk Sunita wie se murg ’n reënboog was terwyl die media haar in ’n gitswart prentjie uitbeeld.

By dié foto wat Elana op Facebook gedeel het, skryf Lehandie Hanekom Kapp: "Dis hoe ek vir Sunita sal onthou, altyd met 'n glimlag op haar gesig!"

“Hoe deal ons met hierdie trauma? Is ons vriende dood in 'n fratsongeluk? Het ons vriend ons vriendin vermoor? Wie vergewe ons? Wie moet ons vryspreek?”

Sy skryf ook dat sy graag Sunita se privaatheid wou eer, maar dit is nie moontlik nie.

Elana sê voorts dat sy vir Jacques ken vandat hulle twee 14 jaar oud was. Sy beskryf hom as 'n “lankmoedige” mens wat goedhartig was en grootliks net frustrasie met die Bokke se spel getoon het.

Jy kon lag vir die simpelste goed, 'oh my hat.'

"En jy, my mens. Ai, jy was 'n lekker mens. Propvol pret. Met 'n lag wat baiekeer hartseer kon uitdryf. Niemand lag so baie en so maklik en so aanmekaar soos jy gelag het nie. Vir varings in ons tande. Vir mae wat pyn. Vir kouse wat leer. Vir volstruiskuikenhare.

"Jy kon lag vir die simpelste goed, 'oh my hat'. Onthou jy toe ons uit die kerk gejaag is omdat ons so baie gelag het? Of die aand wat jy jou broek natgepiepie het van die lag agterop die bakkie op pad Malmesbury toe?"

Elana skryf hoe sy die een was wat vir Sunita geleer het om 'n tennisraket vas te hou en hoe sy vir haar sou sing en klavier speel.

"Jy het altyd gedans."

Elana sê ook dankie vir Sunita en Jacques dat haar eie storie mooier is danksy hulle en sluit af met die wens dat die waarheid sal seëvier.