So sê Carien van Dyk, voorsitter van die skool se beheerliggaam. “Daar is geen verlofvorms ingevul nie en ek het geen rede om te dink dat hy nié Maandag daar sal wees nie.”

Netwerk24 het Dinsdag berig dat Danie op ses maande onbetaalde verlof sal gaan. Daar is intussen ’n regstelling geplaas wat lees dat hy die hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), Brian Schreuder, gekontak het oor die moontlikheid van verlof sonder betaling, maar dat dit nie formeel goedgekeur is nie.

Volgens ’n ingeligte bron na aan die skool se bestuur het Danie bloot verskillende opsies met die WKOD bespreek.

Danie en sy vrou, Eloise le Roux, het in Mei in die nuus beland te midde van bespiegelings oor ’n onbehoorlike verhouding met Sunita van Dyk, wat ’n onderwyseres aan sy skool was.

Dit het gevolg nadat Sunita en haar man, Jacques, se lyke in die vroeë oggendure van 10 Mei in hul uitgebrande huis buite Wellington gekry is. Hulle is saam met hul hond, Skollie, in die badkamer aangetref.

Kort ná hul dood is briewe tussen Sunita en Eloise gepubliseer wat ’n besonder hegte vriendskap tussen die twee vriendinne uitbeeld.