Vandag is nog tientalle onbeantwoorde vrae oor wat presies daardie noodlottige aand op die plaas Oakdene gebeur het.

Een van die artikels wat ná die treurspel in die afgebrande huis gevind is, is die oorblyfsels van ’n Bybel.

 Tien goed wat jy moet weet

  • Jacques (30) en Sunita (31) was vyf jaar getroud voor hulle en hul hond, Skollie, daardie Woensdagoggend in hul huis verkool het.
  • Sunita het in ’n bad water gelê en Jacques en sy hond, Skollie, was langs haar. Iemand het die deur met handdoeke toegepak.
  • Hy was die bestuurder van Oakdene terwyl Sunita ’n onderwyseres verbonde aan die Laerskool Gimnasium in die Paarl was.
  • Danie le Roux, die skoolhoof van die Laerskool Gimnasium, se naam duik op as iemand met wie Sunita moontlik ’n buite-egtelike verhouding gehad het.
  • In Junie het Danie in die skool se nuusbrief aan die ouers gereageer. Daarin het hy gesê hy het professionele grense “met iemand wat hy gementor het” oorskry, daardie grense vervaag en daaroor is hy jammer.  
  • Op 14 Junie het dit aan die lig gekom dat Sunita voor haar dood nekbeserings opgedoen het wat soortgelyk is aan wanneer iemand verwurg word. Dit is deur sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.
  • Daar word beweer dat een van die mense na aan Sunita met wie sy gereeld kontak gehad het, obsessief was oor haar.
  • Sunita en Eloise le Roux, Danie se vrou, was boesemvriende. Briewe tussen Eloise en Sunita is ook gevind wat wys hulle het ’n besonder hegte vriendskap gehad.
  • Etlike ure voor haar dood het sy in WhatsApp-boodskappe aan Eloise gesê sy het “moer baie pille gedrink”.
  • Dit is nog nie bekend hoe Sunita die nekbeserings opgedoen het of hoe die brand in die huis ontstaan het nie.