So het ’n woordvoerder van die sekuriteitsmaatskappy JD Elliot by navraag aan Huisgenoot gesê.

“Ongelukkig is McDonald's se vereiste dat beeldmateriaal (net) 30 dae gehou word. Die voorval waarna verwys word, lê buite dié tydsbestek.”

Die Sondagblad Rapport het die naweek berig die privaat speurder wat die familie aangestel het, het beeldmateriaal wat wys hoe Sunita en Eloise mekaar in die McDonald's in die Paarl ontmoet.

Volgens die speurder, wat om professionele redes anoniem wil bly, kan 'n mens in die beeldmateriaal sien hoe hulle sit en tee drink en hoe Sunita wild met haar hande beduie. 

Die ontmoeting het sowat 'n halfuur geduur.

Jacques en Sunita van Dyk is in die vroeë oggendure van 10 Mei in hul verbrande huis op die plaas Oakdene gekry. Sunita het in ’n bad water gelê en Jacques en sy hond, Skollie, was langs haar. Iemand het die deur met handdoeke toegepak.

Nog voor hul roudiens gehou is, het dit aan die lig gekom Sunita het blykbaar ’n verhouding gehad met die hoof van die Laerskool Paarl Gimnasium, Danie le Roux, waar sy ’n onderwyseres was.

Intussen is briewe tussen Eloise en Sunita gevind wat wys hulle het ’n besonder hegte vriendskap gehad.