’n Egpaar van Langbank in Skotland het onlangs vir die derde keer ’n tweeling gehad.

Hierdie keer is hulle geseën met babadogters, sussies vir hul twee stelle tweelingseuns, Lewis en Kyle (14) en Finn en Jude (12). Die kans dat so iets gebeur, is 1 uit 500 000.

Die 41-jarige Karen Rodger, die trotse ma van die ses, vertel: “Ek is absoluut in die wolke oor my dogters; ’n wonderlike tyd lê voor.”

Nadat hulle twee stelle tweelinge gehad het, het Karen en haar man, Colin Rodger (44), besluit om ná Karen se 40ste verjaardag nog ’n baba te hê.

Min het hulle geweet dat hulle ná ’n skandering in die sesde week van die swangerskap sou uitvind hulle gaan nog ’n tweeling hê. “Dit het nooit eens by my opgekom dat ons nog ’n tweeling kan hê nie, maar ek is absoluut oorstelp,” vertel Karen.

Karen het Colin ge-SMS met die nuus. Dié het gedink sy maak ’n grap en dadelik terugge-SMS: “Dis nie snaaks nie.” Karen onthou: “Ek moes eers verduidelik dis regtig waar!”

Gelukkig is dié toegewyde ouers al gekonfyt wat tweelinge versorg betref; hulle moes dit immers al twee keer baasraak. Tog is dit effens anders omdat Rowan en Isla die eerste dogters is. Colin spot: “Met vier broers en ’n pa, sal kêrels nie ’n kans staan nie!”

- Deur Faiza Mallick

Bron: dailymail.co.uk