DIT is skemer en doodstil in die tuinwoonstel hier in Welkom. Motreën val mistroostig in die ry gate langs die muur waar die polisie ’n mens se arm, voet en kop opgegrawe het.

Wanneer jy by die voordeur staan, val jou oog heel eerste op ’n bisarre tekening teen die yskas: ’n driedimensionele potloodskets van ’n oog deurboor met naalde. En die woorde in Engels daarby: Angels with needles poke through our eyes and let the ugly light of the world in and we’re no longer blind.

Bo-op die yskas staan ’n plastiekbakkie vol munte. Daarop geskryf is die woorde: Spawn of our Prostitution.

Dis hier in die yskas waar die polisie die grusaamste vonds gevind het: die velle van ’n man se afgeskilde gesig.

Al die oorblyfsels is nou weggeneem, maar die donker skilderye teen die muur van die hoofslaapkamer laat steeds ’n rilling by jou ruggraat afgly. Daar is gesigte met skerp tande en monde wat vertrek is asof hulle angswekkend gil.

In ’n kort gangetjie, skuins onder die skedel van ’n bok, is iets wat soos ’n doodsaltaar lyk. Twee wit beelde staan weerskante van bosse verdroogde rose, met ’n paar uitgebrande kerse in die middel. Het die een of ander ritueel dalk die Saterdagnag van die 24-jarige Michael van Eck se dood hier afgespeel?

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 21 April 2011