EN DAAR doen William en Catherine dit weer! Hou ons vier uur en vyf minute lank in gespanne afwagting terwyl hulle in privaatheid hul eersteling leer ken.

Maar hoe pragtig is dit nie? Die Cambridges wat heel moontlik heeltemal op hul eie en in verwondering na hul klein seuntjie staar, sy toontjies en vingertjies tel, en dan diep in mekaar se oë kyk . . .

Ek dink nie dié scenario is te vergesog nie, veral nie as ’n mens die talle foto’s beskou waar William en Catherine vir mekaar kyk nie.

Hierdie bondeltjie vreugde versterk net my gevoel dat William en Catherine hul eie koers gaan inslaan en eeue-oue tradisies gaan meng met ’n goeie skoot moderne lewe.

As ek terugkyk na hul troue, die manier waarop Catherine haar eie “gemoedsboek” vir die troue gemaak het, en hoe hulle húl stempel op die troue afgedruk het – om nie te praat van hoe sy tot elke prys die ontwerper van haar trourok geheim kon hou en nou weer die baba se verwagte geboortedatum nie – dan weet ek: Hier is twee mense wat dinge op hul eie manier gaan doen en nie soos paleisamptenare voorskryf nie.

Buckingham-paleis was vasberade dat die aankondiging oor baba C se geboorte eers by die paleis sou gebeur, en dan op sosiale media sou verskyn. Toe wag William en Catherine met die aankondiging, en daarna kry die koninklike verslaggewers die nuus dat die aankondiging per e-pos sou kom.

Dit was ongelooflik om op SkyNews te sien hoe Paul Harrison in ’n regstreekse uitsending die aankondiging lees. Die TV-gehoor was deel van die aankondiging.

En toe weet ons mos almal wat kom. Eers was daar die paleisamptenaar wat onder groot gejuig koevert in die hand by die Lindo-vleuel uitstap en die kort entjie na Buckingham-paleis toe vervoer word.

Dit was minute, toe word die vergulde klapbord uitgedra. En die skare, op plekke tot 20 diep, het soos een man gejuig. 'n Nuwe prins is gebore. 'n Nuwe koning!

Buite die Lindo-vleuel het verslaggewers met lede van die opgewonde skare gesels.

En toe kom die stadsomroeper – weer Britse tradisie op sy beste – en kondig die geboorte aan. Sommer twee keer!

Vandag gaan Baba C heel moontlik huis toe. Omdat koninklikes nie vanne gebruik nie, kan die Cambridges uit drie moontlike vanne kies: Wales (die van wat William en Harry in die weermag gebruik), Cambridge (die seuntjie gaan immers die prins (naam) van Cambridge heet), en natuurlik die koninklike van wat deur die koningin en ander koninklikes gebruik word: Mountbatten-Windsor.

Maar dié kleinding gaan in die eerste plek nie die draer van ’n titel wees nie, maar William en Catherine se seuntjie. En die eerste kleinkind van Charles, die Middletons en, natuurlik, Diana.

- Arlene Prinsloo

Arlene Prinsloo is die digitale nasionale inhoudskoördineerder van Digitale Nuus, Media24 Nuus. Sy is ook Huisgenoot se koninklike blogger. Lees haar ander blogs by:

Is baba C stylvol laat?

Baba C gaan luid verwelkom word . . .

Harde werk tot Baba C opdaag!

Laaste sien van Catherine? 

Wie weet?

Dit is amptelik Julie, baba C se geboortemaand!