'n Bondeltjie vrees in ’n wit teaterjassie – dis die prentjie wat klein Marco van Vuuren skep. Met sy potblou teatermussie lyk die vyfjarige knapie te skatlik, maar vrees flikker heeltyd in sy wakker ogies.

Bespreek vir Skouspel!

Geen wonder ook nie, want die vorige keer toe hy in ’n hospitaalbed was, was hy histeries gillend van pyn nadat ’n dokter wat ’n eenvoudige besnydenis op hom moes doen, sy penis so verskriklik met stikstof verbrand het dat die helfte uiteindelik afgeval en net ’n stompie oorgebly het.

Maar al is klein Marco vandag bang, is dit ’n dag van hoop en ’n nuwe begin – alles danksy die ruim hart en oop hande van Huisgenoot-lesers, maar bowenal van een verstommend vrygewige weldoener – ’n engel, soos ma Hester (29) hom noem.

Marco se verhaal (Besny, toe word hy vermink, Huisgenoot, 11 Maart) het lesers so aangegryp dat Hester en pa Spekkies (32) vandag langs hul seun se hospitaalbed kan staan om die brouwerk van verlede Oktober te laat herstel.

En nie net het dié een geheimsinnige weldoener die leeue-aandeel van die seuntjie se mediese koste gedra nie, hy het ook ruim gegee sodat sy ouers van Coronation in KwaZulu-Natal na Newcastle kon kom om hul seun hier in die Newcastle-privaathospitaal by te staan.

’n Rekonstruktiewe operasie om Marco se urinebuis te herstel was al wat hom ’n kans op ’n normale lewe sou gee. Die outjie se urinebuis het ná die skending van sy penis onder die orgaan net bo die skrotum uitgemond, en hy kon nie meer staan en urineer nie. As volwassene sou hy ook nie normaal kon ejakuleer nie, en sy vermoë om kinders te verwek sou ernstig gekortwiek word.

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en die operasie sou ’n onbereikbare R60 000 gekos het.

Nooit sou hulle kon dink dat Huisgenoot-lesers se oop hart Marco se lewe binne twee weke so sou verander nie. So aangegryp was lesers deur die seuntjie se swaarkry dat hulle selfs ’n Facebook-groep vir hom gestig het, en mense steeds geld in Huisgenoot se Ubuntu-fonds deponeer vir sy mediese uitgawes.

Maar dis veral die een geheimsinnige weldoener wat Marco onder sy vlerk geneem het wat sy ouers sprakeloos laat. Hy het met Marco se uroloog, dr. Mahesh Dhanjee, in aanraking gekom, en nog voor die seuntjie ’n voet in die hospitaal gesit het, het hy die nagenoeg R37 000 vir Marco se hospitaaluitgawes betaal.

Lees die volledige artikel in die uitgawe van 25 Maart.

Die Ubuntu-fonds bank by Absa (lopende rekening)

Bank: Absa

Rekeningnaam: Media24 Bpk.,

Spesiale naam: Huisgenoot/YOU Ubuntu-projek

Rekeningnommer: 406 501 0715 .